Groentesop

Ek stap vandag by my niggie, met vier kinders, se huis in. Daar is absolute beheer, geen ding is uit sy plek nie. Die normale gesig, wat mens sou verwag om te sien, as jy by iemand met vier woelwaters se huis instap, is chaos. Klere wat rondlê, afkop poppe, papbakkies met melk in, kinders wat nog in hul pajamas mekaar rondjaag, een wat kerm, ʼn berg skottelgoed, ʼn ma in haar kamerjas, of selfs net ʼn bietjie krummels op die kombuisblad.

Ek het fyn gekyk, maar hoe fyner ek kyk hoe groter was die ontnugtering dat daar beheer is. Ek wou so graag ʼn skewe ding raak sien, of bietjie stof wat op die blindings lê, toe ek ʼn nat lappie gaan haal het ek gehoop ek kom op gisteraand se potte af, maar nee, dit was skoon. Ek het selfs op kort kennisgewing daar gestop, so die vrou het nie eens kans gehad om vinnig reg te trek voor ek kom nie.

Al wat dit vir my sê is: dit lyk altyd so daar. Sy het vier, ek het twee. My twee, rig meer skade aan ʼn huis se binnekant as wat ek toe besef. By ons voordeur met intrapslag loop jy oor ʼn see van Lego-blokkies, ek noem dit sommer ʼn vinnige oueropleiding voor jy behoorlik in die huis is, want daar is niks op hierdie aarde wat seerder maak as ʼn Lego-blokkie onder mens se voet nie. Loop jy bietjie verder, sal jy gekonfronteer word met ʼn paar bakkies pap wat nie klaar geëet is nie, kyk jy bietjie agter die bank sal jy ʼn berg lekkergoedpapiere sien (as dit in die asblik beland is dit harde bewyse dat hulle gegrawe het in die koskas, indien dit nie in die asblik is nie, beteken dit ʼn muis het die lekkers gesteel).

Terwyl jy jou vergaap aan al die chaos, moet jy mooi trap asof daar krokodille om jou is, want die vloer is vol slaggate. ʼn Half geboude brug, blokkies wat Ben die wêreld vol geskop het, ʼn koeldrank plassie, jogurt wat “opgevee” is maar eintlik meer ingevee is, ‘n paar rondlê hondepille en ʼn kombuistafel met vuil borde op en die stoof met gisteraand se potte op. As jy nog waaghalsig genoeg is teen die tyd om dit verder te waag in die huis en dieper wil beweeg, sal jy die lang eetkamertafel sien. Op die oomblik kan mens uitmaak dat daar vier hout pote is, en dan ʼn lang oppervlakte bedek met enige ding onder die son, van uitgeknipte hande, verf, sagte balletjies, gom, boeke, kryte tot Rummikub.

Die inhoud op die tafel word nou en dan verskuif en dan bars dit na ʼn week soos ʼn vulkaan uit sy nate en lê legkaarte, papiersnippers, stickers, robotte en knope weer in een groot groentesop. Ek moet sê dit is nogal hoe alles deesdae voel: soos groentesop. Lyne tussen werk, ma-wees, vrou-wees en menswees het eers verdof en nou heeltemal verdwyn. Elke dag mag jy bordkryt vat en nuwe lyne trek en besluit hoe groot jou porsie van elke afdeling mag wees. Elke dag voel dit of ek my dag verkeerd ingedeel het, want die geheim oor hoe om balans te vind is nog Grieks vir my.

Jan se nerwe raak al hoe dunner en sy trane al hoe vlakker, Ben het ʼn ekstra battery of twee in sy rug ontdek en hop ekstra hoër en ekstra meer. My kos proe aaklig en Netflix het te veel opsies. En ons vermis ons hasie al vir die afgelope vier dae, met die koue kan ek nie dink dat Sophia nog kan lewe nie.

Aan die begin van die kiemtyd was my groentesop nog in groot, herkenbare stukke. Ek het geweet wanneer ek ʼn vleisie beet het, wanneer daar ʼn ertjie in my lepel is en hoe ʼn wortel lyk. Nou. Nou is alles fyn en waterig en die smaak is uitgekook.

Hierdie jaar is nou in die helfte en het ons beslis ʼn paar lesse al kom leer, een van die klomp wat vandag vir my die meeste uitstaan is dat struktuur broodnodig is en dat mens nie net van groentesop kan oorleef nie.

Photo by Daria Shevtsova on Pexels.com

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.