Die huis waarin al vier ons kinders grootgeword het, Koedoestraat 4, is in ‘n doodloopstraat. Daar was nie sommer karre wat verbygery het nie en ons kon uit die leefvertrek deur die venster sien as iemand verdwaal en net weer omdraai. Voor die hek was daar ‘n bruggie waaroor jy moes ry, die kanaal loop daarlangs en al die huise langs die kanaal kon altyd water lei uit die kanaal.
Ek onthou hoe lekker ek in die kanaal gespeel het. ‘n Kanaal-dag het altyd onverwags sy opwagting kom maak, ‘n dag het gewoonlik ‘n kanaal-dag geword as mens baie verveeld was en jy begin loop rond en wonder wat jy kan doen. Die water wat voor die huis verby geloop het, was altyd vol moontlikhede en planne: party dae kry mens ‘n plan om met ‘n tube af te dryf, ander dae is mens weer lus om ‘n papier bootjie dop te hou en soms wat ek net lus om te sit en grawe vir mossels.
Ek het al op ‘n kol ‘n klein baber ook uitgetrek met ‘n stok en lyn wat ek sommer net aanmekaar vasgeknoop het. Koedoestraat 4 is nie meer ons huis op Upington waar ons kinders kan gaan kuier nie, omdat my ma nou alleen is en kleiner gegaan het. Daar is ‘n groot stuk waarop my kinders uitmis van my lekker herinneringe wat ek graag met hulle sou wou deel.
Die kanaal het ook ‘n spesiale plek in my ma se hart gehad, sy het ‘n gedig opgedra aan die kanaal:
Hulde aan die voor
Deur: Elsa Smith
Dis asof ek dit nou nog hoor –
My ma se stem:
“My kind gaan haal vir ons ʼn bietjie vars water by die voor”,
Ek onthou ook nog die vaalgeel bieliekom,
as hy vol was, maak hy nogal mens se arm lam.
Dit was die hartland van ons kinders,
die kweekstuk by die voor.
Tussen fluitjiesriet en Jan-Twak-bos,
het ons alle sin vir tyd verloor.
Daar het ons vir ure ge-mevrou-mevrou,
ons tee was troebel water wat uit die voor uit kom,
ons koeke was van modder, vars gebak en gou –
kunstig versiermet grassies en die Jan-Twak se blom.
Ons spelpatroon het skielik omgedraai
wanneer die seuns bykom.
Dan het ons die krappe afgemaai,
en oorlog met dieselfde klei gevoer –
ons krete het die gestorwenes se gebeentes
bo in Kalksluit gelaat roer.
_____________________________________________
Toe ons hier intrek, was my kinders klein
en ek was baie bang,
ek moes eers die erf omhein.
Gou het ek geleer, dis nie die water wat die kinders nader trek,
die staantyd van die watersloot,
dís wat hul aandag trek.
Dis vissies soek en krappe dood
en kleilat gooi verwoed.
Ook groter visse vang, kompleet met lyn en hoek.
Toe kon hulle ook met eie hande vroetel
in dieselfde voor se klei, lê die koekies in die son en bak
lank nadat die kanaal weer loop en ons weer water lei.
Rustig vloei hy deur ons dorp –
Bied ʼn fees vir elke oog.
Sorgsaam soos ʼn regte moeder wat haar tuinkinders nog soog.
Uit hom uit pomp ons, sproei ons, lei ons
net soos dit ons behaag.
Hy is die lewensaar van elke van se tuine
met sy troebel water voed en laaf hy,
Die lof van hierdie wilde lower is als net syne.
Dis nou nie meer ʼn voor, die mense noem hom nou kanaal.
Tog kan die kinders steeds die vreug van kindwees uit hom haal.
Die grootmense meet weer met ander waardes –
hulle wil in hom belê –
hulle soek al immers erwe wat reg langsaan hom lê.
Laat ons hierdie waterbron waardeer,
En laat ons by hom leer –
om sonder vra, altyd maar te gee.
Ons moet hom baie mooi bewaar,
omdat ons kleinkinders ook nog
Herinneringe rondom hom vergaar.
Leave a Reply