Ek onthou my ma was nog altyd lief vir skryf. Sy het altyd ‘n kort potloodjie gehad en het met haar eiesoortige half lopende, half vaste skrif los gedagtes neergeskryf. As sy dan die dag tyd gemaak het om alle los drade bymekaar te bring, het sy seremonieel voor die tikmasjien gaan sit en een-een elke letter op die papier vasgeslaan.

Niemand mag dan met haar gepraat het nie, want dan maak sy ‘n fout en moes weer oor begin. Haar lêer met skryfgoed was altyd in haar werkkamer gebêre en ek onthou as ek by haar gesit het terwyl sy naaldwerk doen, het ek deur haar gedagtes geblaai. Ek het haar gevra om net weer van die gunstelinge vir my aan te stuur, sodat ek weer haar skryfgoed naby my weer kan hê. Soos ek deur alles lees, onthou ek goed hoe baie ek dit gelees het en dit geniet het, want alles waaroor sy geskryf het was deel van my leefwêreld.
Sy was al die jare ‘n huisvrou en het vir ‘n tydjie aan die Tuinbou-klub behoort, hoe sy alles kon inpas weet ek nie, want net wasgoed en skottelgoed alleen kry my onder. Sy en haar groep het ook ‘n beurt gehad om ‘n funksie te reël en sy het besluit om iets vir al die Tuinbou-tannies te skryf en dit voor te dra.
Die Tuinbou-tannies het altyd in die kerksaal bymekaar gekom en as daar ‘n funksie was, was daar tafels wat gedek is volgens tema, ‘n spreker wat kom gesels oor tuinmaak en idees is oor en weer uitgeruil – ‘n groot gedoente.
Die Tuinbou-klub het uit ‘n wye verskeidenheid van vroue bestaan, nie almal was noodwendig boesem vriendinne nie, maar almal het lekker oor en weer gekloek met sulke geleenthede. Ek onthou nog hoe my ma die stuk wat sy geskryf het vir ons by die huis ‘n hele paar keer voorgelees het.
Ons kinders het lekker gegiggel vir al die kwinkslae, maar my pa was nie baie ingenome daarmee nie, want “mens trap nie so op ander mense se tone nie.” Nietemin het my ma steeds voor al die tannies gaan staan voor die mikrofoon, haar keel skoongemaak en die volgende voorgelees.
My Tuinbou-vriendinne
Deur: Elsa Smith
Party van ons is soos ʼn sonneblom,
Oop en gul en vriendelik; lag oor elke dag wat kom.
Geen situasie is ooit te ernstig van aard,
sy sien altyd net die sonkant raak.
Ander weer is soos die roos,
sag en skugter van geaardheid.
Nie ʼn harde werker, daarvoor veels te broos.
Maar pasop, sy het ʼn doring,
veel sterker as enige bees se horing.
Ook is daar ons suster aster,
sy is nie besonder geurig.
Maar aan haar groei jy gedurig vaster.
Sy is so betroubaar en gewillig
bekla by haar maar enige tyd jou lot.
Plaas haar in ʼn pot en tot 14 dae verskaf sy jou ure van loutere genot.
Die jakop regops is ook hier.
Die hoogmoediges, bietjie stywerig en baie suur.
Hulle is tóg bruikbaar, soms heel kleurvol.
Maar oor hulle is niemand maklik baie dol.
Hulle is die oues vir geen kuns, net kultuur.
Die sweetpies kry jy ook.
Van hulle bly jy altyddeur bewus,
Want hulle is so fyn en geurig.
In ʼn pot hou hulle ook ʼn lang ruk,
Maar hulle het ʼn splinternuwe nuk,
doen niks alleen,
soek altyd maar ʼn stut om op te leun.
Angelier is ook nog hier.
Sy hou van dinge rustig.
Sy is baie sterk gegeur, want haar parfuum gebruik sy baie kwistig.
Sy het al menige vrou se afdag opgebeur.
En dan kom ons by die magrietjie.
Waarlik ʼn vriendin in nood,
by haar hoef jy geen afspraak ooit te maak nie,
enige tyd is teetyd, en by gebrek aan koek eet julle sommer brood.
Jy hoef jou nooit vir haar te skaam,
Sy is so vriendelik, so nederig en so bekwaam.
Op die deftigste onthale, in die mees eenvoudige huis,
Oral gesels sy ewe maklik en oral is sy heerlik tuis.
Voor julle nou te vreeslik wonde:
“Waar pas ek nou in”
Wil ek net sê:
Ons leer so baie dinge in God se Boek,
Soos, “wees maar net jouself” en “doen jou bes”
En “blom tot eer van Hom”.
Geen tuin is net vir een soort,
Verskeidenheid, dit is wat God wil hê.
Dit is soos dit hoort.
Geniet jouself daar in jou akker,
Wees heel jaar op en wakker.
Kom ons gee met oorgawe ons malse kleur en geur
Om die beswaarde wêreld om ons so ʼn bietjie op te beur.

Leave a Reply