Moets en moenies

7566f003-42ee-4720-beaa-8b36de9ec12aʼn Revolusie impliseer die skielike, radikale weerstand teen ʼn geleidelike verandering. Die afgelope ruk loop ek met die woord in my kop rond en ek vra heeltyd myself af: Self, is ek en jy besig met ʼn revolusie? Ek het sedertdien nog nie ʼn duidelike antwoord gekry nie en worstel steeds hiermee.

Op skool was ek nooit juis ʼn pliggie nie, ek het genoeg huiswerk gedoen om nie die tempo te verloor nie, maar ook nie te veel huiswerk nie, want dan sou dit beteken dat ek met my sosiale lewe moes boet daarvoor. Ek kon my altyd verkyk aan die kinders wat optimaal kon funksioneer onder reëls, dit het hulle veilig laat voel en hulle wou graag so veel moontlik reëls nakom sodat hulle so soet moontlik kon lyk.

Op universiteit was die reëls, tot my verligting, aansienlik minder, maar weer was daar hierdie uitsonderlike groepie mense wat reëls kon uitsnuffel en dit om hulle gepak, soos ʼn klein skaapkraaltjie. Dit het hulle gelukkig gemaak om al die reëls na te volg, dit het my gelukkig gemaak om dit te breek. Dit het gevoel of ek ontsnap en wegbeweeg van ʼn klein kampie na ʼn groot veld, alle bagasie wat my swaar en mismoedig laat voel het, kon ek agterlaat as ek vryheid kon proe.

Ek sal nooit die aand vergeet toe ek en ʼn paar vriendinne in ons eerstejaar bestempel is as die vrot appels nie, ons is aangesê deur die HK om voortaan ʼn lae profiel te handhaaf. Dit het ons meer motivering gegee om nie ʼn lae profiel te handhaaf nie en om gestand te doen aan ons “vrot appel” etiket wat aan ons nekke gehang is. Die meisies wat geduldig gewag het tot hulle vir die eerste keer kon uitgaan saans, het ook nooit juis hand uitgeruk nie. Hulle het soos dit ʼn beskaafde dame betaam, vroeg teruggekeer koshuis toe – en ek is seker daarvan hulle het ook eers gaan bad en tande geborsel voor hulle in die bed gekruip het.

Elkeen doen waarmee hy/sy gemaklik is en wat hom/haar vrede gee. Vir die een of ander rede bevraagteken ek maar net van kleins af goed om my. Ek onthou toe ek klein was, is daar altyd vir my aan tafel gesê: “Laan hou op vergadering hou”. Ek wonder, pluis uit, vra te veel vrae, sê te veel. Maar dit is hoe ek op halwe waarhede en oplossings afkom, dit laat voel my rustiger voel as ek my hart koel gepraat het, dan het alles weer taamlik sin.

Met die tyd waarin ons is, word ons met baie reëls gebombardeer en daar is vreeslik baie moets en moenies. Nooit het ek luidkeels aangekondig dat ek van hierdie reëls nie gaan nakom nie, aan die begin het alles heel doenbaar geklink vir my. Namate die tyd verbygaan, het my oeroue drang om oor die skaapkraaltjie se heining te klim maar weer ingeskop.

Ons het ʼn paar dae gelede iewers deur die loop van die middag ʼn tweede behoefte ontwikkel om te gaan stap, die kinders was gefrustreerd en ons is uit by die deur. ʼn Goeie 500 m weg van die huis het ek besef nie een van ons het maskers aan nie, ek was eintlik bly ek het vergeet, want nou kon ons weer ʼn slag lekker met mekaar gesels en nie klink asof ons ʼn bank wil beroof nie. Vreemd soos die motors verby ry, kon ek koppe sien wat draai en ons bietjie aankyk.

Eweskielik is ons verkeerd omdat ons nie ʼn stukkie lap het wat ons monde en neuse toemaak nie, en nog erger, ons stel ons kinders aan die buitelug bloot sonder maskers. Net toe ek nog besig is om vir Abrie ʼn grap te vertel, waarvoor hy nie wou lag nie, staan ʼn man en kyk vir ons vanuit sy voorportaal agter sy traliehek, waar daar nie kieme is nie. Ek waai vir hom en besef toe vinnig hy wil nie terug waai nie. Toe ons verby sy huis is, het ek ʼn gemompel gehoor.

Jan, ons oudste, is wel lief vir reëls en kon nie verstaan dat ons in kiemtyd in die middag gaan stap nie: “ons gaan kieme kry Mamma”. Ek moes my woorde baie versigtig kies om vir hom op ʼn mooi manier te laat verstaan dat kieme nie tyd kan lees nie en dat sommige reëls nie altyd sin maak nie.

As die kind in die hoërskool was, sou ek net kon sê dat mens maar ʼn middelvinger vir party reëls mag wys. Ek het nooit besef ons land het so baie liefhebbers van reëls nie, maar deesdae is mens byna elke dag oor iets nuuts verbaas. Mense verklik mekaar oor ʼn bietjie gerondloop en bene rek, die tronkvoëls vat nou die strate want hulle is bang hulle kry die virus in die tronk, honger mense se kos word gesteel deur mense wat hul eie kos kan koop, maar solank jy slegs tussen 07:00 en 09:00 buite is en ten alle tye jou masker dra is die Kaap Hollands.

Die skoolwerk kom in vir my Graad R kind en is meer as wat ek wil hê dit moet wees, so ek sif deur alles en kies my tye van skoolhou versigtig. As hy met ʼn plan soggens wakker word en haastig sy pap eet sodat hy buite kan kom, gaan ek nie in sy pad staan met vorms, getalle en letters nie.

So nou en dan vra ek myself: “Self, moet ek nie maar bietjie meer skoolwerk met Jan doen nie, wat as hy agter raak?” Dan antwoord Self (ek vermoed dis my gewete, maar sy is ook my enigste maatjie deesdae): “los hom dat hy oor die heining klim en gaan ontdek.”

Ek het vandag vir Jan en Ben weereens gelos om hul harte uit te speel en dit raak net lekkerder, die jaghuisie is nou tans ʼn army huisie waar meeste van die lekkergoedvoorraad ook gestoor word, vir die wis en onwis. Daar is ook slaapsakke, ʼn lig en legkaarte vir as hulle nou regtig verveeld raak.

Niemand weet wat is reg of verkeerd nie, maar as jou reg, reg voel, kan dit nie verkeerd wees nie. Miskien is die revolusie in wording nie ʼn slegte een nie en een waar ons vir ons kinders leer om vir hulself te mag dink en redeneer.

‘n Lig, watergeweer en Peaceful Sleep is noodsaaklikhede vir ‘n army huis.
Slaapsak en kussings is gereed, maar ‘n geharde army man, mag darem nog met sy beertjie slaap en sy pantoffels dra.
Beddens word netjies opgemaak voordat hulle uitgaan op ‘n geheime missie.
Die toerusting is netjies gebêre en elke ding het sy plek.
Veiligheid word opgeskerp om rondlopers, soos die kat of haas, van die perseel af te hou.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.