
Ek is ʼn laatlam van vier en van Standerd 2 was ek die enigste kind in die huis en die grotes is toe op universiteit en het begin werk. Ek moes altyd hoor ek kry dinge te maklik en ek hoef nie te lank te wag vir iets nie. Ek het in Standerd 5 ʼn CD-speler gekry, ek dink die ander kinders moes langer wag vir ʼn radio.
Ek kon meer klere kry, want daar was nou net een kind om voor klere te koop in die huis. Ek kon ook bietjie meer my sê inkry en ʼn lelike antwoordjie terug snip, want my ma-hulle was nie meer in die dissipline game nie. So om ʼn laatlam te wees, het sy voor – en nadele, maar omdat ek nie te lank hoef te gewag het vir wat ek wou hê nie (al het dit vir my so gevoel), het ek nie juis die betekenis van die woord “waardeer” geleer nie.
Ek het ʼn hele klompie jaar skoolgehou en “waardeer” het gereeld opgekom as een van die woorde vir Vrydae se speltoetse. Dit kan so maklik as “waardeur” gesien en geskryf word. Jy kyk so maklik deur die woord en dink jy hoor reg, maar eintlik is dit iets anders. So, ek het gedog ek het vir “waardeer” taamlik onder die knie gehad. Mens kyk mos rondom jou en sien raak wat jy het en sê dankie daarvoor, dis mos wat waardeer beteken, nie waar nie? Of so het ek gedink.
Die afgelope ses weke het ek die huis probeer skoonhou, vir die kinders ʼn juffrou probeer wees en agter my rekenaar ingeskuif op vreemde tye om te probeer werk, met die klem op probeer. Alles was maar ʼn poging, alhoewel ek nie juis een van die drie vreeslik goed kon doen nie, aangesien die dag te kort is en partykeer is alles net te oorweldigend dan wil ek net sit, vir geen rede nie, net omdat sit sit is.
Vanoggend het Emily, ons huishulp van die afgelope 9 jaar, weer teruggekom. Dit is asof tyd nie stilgestaan het nie. Dieselfde ritueel om eers grappies met die kinders te maak terwyl hulle pap eet, die gerusstellende geluid van die wasmasjien wat ritmies sy werk doen, rondstaan skottelgoed wat eweskielik verdwyn, gebondelde beddegoed wat weer seepglad gestryk is met kussings mooi op hul plekke, stof wat gaan lêplek soek het in die kleinste gaatjie het verdwyn en Emily se geselsies met haar vriendinne oor die foon terwyl sy werk. Eweskielik is ons huis se bestuurder terug, ek kan nie meer in my jamies in die huis rondloop nie, dit voel nie reg nie, so ek het maar vir die eerste keer in twee maande weer klere gekies wat bymekaar pas.
Ek en Jan kon skoolwerk doen vanoggend, terwyl Ben homself soet besig gehou het en Abrie was ook op sy pos en aan die werk. Ons het ons skooltakies afgehandel, Jan was maar te dankbaar dat hy weer kon begin speel en ek kon met nuwe woema met my eie werk begin, want ʼn groot deel van die dag se werk is reeds vermag. Ek kon gedoen kry wat ek wou, die kinders het hulself soet besig gehou die hele middag en het net een keer vir koeldrank en ʼn verassing kom vra.
Tussendeur het Emily verwoed ingevaar met die stofsuier, klere gestryk en die vloer blink gemaak. Vanaand se kos was lekkerder as ander aande, want daar was struktuur in ons dag en ek wil darem vir Emily ietsie lekkers gee vir haar eerste aand weer terug by ons.
Die dag is verby, maar dit was anders as ander dae, ons is weer voltallig, daar is weer ʼn ritme in die huis en daar is tydgleuwe vir spesifieke dinge. Ons het Emily se plek probeer volstaan, maar het dit nie baie goed reggekry nie. Ja, dit is beslis ʼn eerstewêreld bekommernis om jou huishulp te kan verlang, nie almal het dit nie, maar dit gaan oor meer as net die netheid en die reuk van jik en seepborrels wat spat. Dit is die vrolike energie wat iemand in ons huis inbring, sonder dat sy so oulik hoef te wees en dat sy voel dit is haar huis ook en dat sy hier hoort, wat vir my die heel lekkerste gedagte is.
Vanaand weet ek wat waardeer beteken.
Leave a Reply