Verlang

white and brown house
Photo by Arvid Knutsen on Pexels.com

Op 19 het ek begin kennis maak met verlange. Elke Sondag het soos ʼn ewigheid gevoel en al was ek in die koshuis, waar daar geen tekort aan geselskap was nie, was ʼn Sondag ʼn stil, dooie dag. Ek dink nou nog terug aan die dae toe ek nog nie verlang het nie en ek wens ek kon vir my klein self gaan sê het om die geborge, veilige gevoel meer te koester. Roetine is nie altyd lekker nie, maar roetine het gemaak dat ek sekere goed nou nog glashelder kan onthou.

Ek onthou Sondae oggende se opstaan, ons kon ʼn rapsie later lê as deur die week. My pa se ritueel, waarvan hy nooit afgewyk het nie, was om aan te trek, hare in ʼn netjiese kuif te kam in die badkamer, terug in die gang na hulle kamer om kerkgeld te kry wat hy in ʼn klein springbok balsakkie gebêre het, dan het hy sy baadjie aangetrek en pepermente vir almal afgetel. Toe die ander kinders nog in die huis was, was ons ses mense wat pepermente moes kry.

My ma het altyd ekstra mooi gelyk op ʼn Sondag en dit was vir my lekker want dit was die enigste dag in die week wat ek haar met hakskoene gesien het. Ma het haar leersak met haar Bybel en notaboekie en klein potloodjie daarin gereed, Pa het sy pepermente en kerkgeld en almal spuit nog vir oulaas lekkerruik en trek reg voor die spieël. So het ons al ses dan kerk toe gestap, ek onthou ons kon die hele straat se breedte volmaak.

As ons net buite die hek was, voor die posbus, het elkeen ʼn peperment gekry om te suig, nie te kou nie, want dan raak dit gou op. Ons mag nie hard gelag het en simpel grappe gemaak het nie, want ons is op pad kerk toe en moes nou stemmig wees. As ons die skerp bult begin uitstap het, het Ma altyd gekla oor die ou stink boompie wat soos katpis ruik, dan het Pa met haar geraas, want sy sê dit te hard en die mense gaan haar hoor.

Bo die bult, kon ons die kerk sien, hy het net ander kant die hoofstraat gestaan en gewag vir almal om op hul gewone plekke te kom sit. Hoe nader mens aan die kerk gekom het, hoe stiller het almal geword en indien daar nog wel ʼn laaste grappie of giggel was, was dit nou teen die tyd heeltemal van die tafel af.

My pa het nie geraas nie, net gesê: “Ousus”, maar dit het my nogal simpel laat voel so ek wou dit liefs vermy. Mens bars nie net by ʼn kerk in nie, daar is ʼn proses: ouer mense wat naby aan jou loop stap eerste in, knoop ʼn geselsie aan met ʼn paar kennisse maar hou dit steeds stemmig en in ʼn lae stemtoon, vat ʼn kerkblaadjie by die deur, loop in en draai dadelik regs en neem jou plek in en moet ook nie rondkyk-rondkyk loop nie, jy loop om by jou plek uit te kom. Indien ʼn gesin vir een of ander rede op jou gesin se plek sit, is daar ʼn effe ongemaklike situasie, alhoewel die rye voor nog baie spasie het, staan die gesin wat gewoonlik op die plek sit en kyk vir die sittende gesin. As die sittendes nie hul plek wil afgee nie, word daar saggies verby hulle in die ry geskuur, maar jou ry is jou ry, jy moet daar sit ten alle koste. Indien die gesin die ongemaklikheid aangevoel het en besef hulle het jou plek gesteel, dan het hulle vinning middel toe geskuif.

Sodra almal gemaklik was en hul Bybels in die rakkies gesit het van die voorste banke, buig almal hoofde. Ek het nooit geweet hoekom ek dit moet doen nie, ek het maar my oë toegemaak en gehoop Ouma Ella het weer sousboontjies onthou vir middagete. Die oom wat die voorsang gedoen het, het ʼn groot verantwoordelikheid gehad en die hele gemeente het vir hom gekyk terwyl daar gesing is. Dan het die dominee met sy preek begin en daar moet stil gesit word. My pa het gewoonlik langs my gesit, hy het agtergekom as ek rondkyk of nie oogkontak met die dominee maak nie en dan het ek ʼn ligte tikkie gekry om my te herinner om te fokus.

Aan die einde van die diens het ons, ons kollekte by die sydeur ingegooi en ek het altyd bietjie meer die kollekte tannies geniet wat aan die einde van die dienste by die deure gestaan het. Hulle het bietjie meer geselsies gemaak. Oorheersend was daar ʼn meer geselligheid onder die mense buite en die volume kon nou ʼn klein bietjie opgedraai word. Om nou te praat oor ʼn toetswedstryd van ʼn rugbyspan is aanvaarbaar. Ooms het vasgehaak bymekaar en tannies het begin voetjie klop want daar is ʼn ding in die oond en voorbereidings vir die middagete moet begin.

Ons het vir ouma Ella gehad wat langs ons gebly het, sy het ons meeste Sondae genooi vir ete. Die Sondae wat sy gekook het, het sy kerk op die radio geluister en nie saamgekom nie en haar been het haar gepla, so sy was gemaklik met kerk by die huis.

Ek onthou ouma Ella het ʼn blink, ronde eetkamertafel gehad en bo-op was ʼn ding wat kon draai. Sy het dan al die kos op die ronde deel kom sit, dan kon almal skep, sonder om oor mekaar te rek. Ouma Ella was lief daarvoor om soet te kook, soet patats, soet boontjies, soet perskes, rys, sagte vleis en dalk een sout groente soos boontjies. Die sousboontjies was my gunsteling en ek het dit altyd met rys gemeng en klein porsies van als geskep sodat ek nog plek gehad het vir ʼn tweede bergie. Poeding was gewoonlik ʼn roly poly met vla. Ek het eendag raas gekry, want ek het gesê die roly poly lyk soos ʼn wurm. Pa het gevoel dit is onvanpas en mens vergelyk nie Ouma se gebak met goggas nie.

Dan het ons skottelgoed gewas en Pa het koerant gelees en as als weer op hul plek is het ons vir Ouma gegroet en huis toe gestap. Die volgende logiese ding wat gevolg het was die middagslapie. Ek weet nie hoekom die televisieprogramme op Sondagmiddae ekstra vervelig moes wees nie, maar ek het maar deurgedruk en gekyk.

Hier teen 16:00 se kant was die middagslapie verby en dan het ons Klippunt toe gery en by die familie gaan kuier. Net voor sononder was ons weer terug by die huis en dan op Sondagaande was dit Pa se beurt om kos te maak. Aangesien ons ʼn groot middagete gehad het, het hy volstaan by eiers. Jy kon kies hoeveel gekookte eiers jy wou hê. Terwyl hy die eiers kook moes ek die tafel dek, dan is die res van die aand gevolg deur Carte Blanche, die 20:00 fliek, tas regpak vir môre se skool en gaan slaap.

Dan moet daar eers weer vir ʼn week gewerk word, voor jy weer hierdie rustigheid kon beleef. Sondae bring steeds heimwee en verlange op, nuwe roetines en gewoontes is gebore. En dan wonder ek of ons ook daarin sal slaag om sulke helder herinneringe te skep vir ons kinders.

 

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.