Bome dra sokkies

aca39bd7-a3dd-4293-8658-98fef5e5bf94Die dat ons almal nog op hok sit en elkeen die besluit moet neem of hy soveel as moontlik varkies in sy kraal wil hê, of almal in gelid wil laat marsjeer, is ek een van die wat maar die hekkie oopgemaak het dat almal net die vlaktes in moet hardloop en vry wees.

Aanvanklik het ek skuldig gevoel omdat ek nie meer varkies het nie, almal het dan varkies, maar die gedagte het later kom nes maak en nou is ek gemaklik met my leë kampie. Die ewige skuldgevoelens wat maal: het ek genoeg skoolwerk met Jan gedoen vandag? Stimuleer ek vir Ben genoeg? Wanneer gaan ek begin ophou bak en gesond eet? Wanneer skop ek met ʼn behoorlike roetine af?

As ek Facebook oopmaak, kry ʼn benoude gevoel in my keel wat skeef gaan draai in my maag as ek al die wonderlike goed sien wat mammas met hulle kinders doen. Droom aktiwiteite, skoon huise, mammas met rooi naels en lippe en mense wat verskriklik heen en weer hardloop in hul tuine en hul fiksheid bereik nou selfs nuwe hoogtes.

Juis omdat ek my varke die trekpas gegee het, het ek min tot geen energie om enige oordeel uit te spreek, maar tog het my hande lus gehad om ook iets te begin doen.

Ek was nie lus vir skoonmaak of skottelgoed was nie, dit is goed wat elke dag in elk geval moet gebeur. Ek wou iets doen wat ek na kan kyk as dit klaar is. Tussen al my handwerk hopies en halfklaar projekte, het ek op my afval wol afgekom en net daar het ek geweet wat ek kan doen: boomsokkies!

Ons erf is nie baie groot nie, so die bome is ook nie juis massief nie, agter teen die muur staan lang populierbome, in die middel ʼn apiesdoring en teen die ander muur is ‘n olyf en ʼn karee en daar is nog maar ek ken nie hul name nie. Elkeen van hierdie bome wat so getrou deur al die seisoene staan, gaan nou ʼn bont sokkie kry. Ek het al drie klaar en is sterk besig met die volgende lot.

As jy na die huistyd dalk by my kom koffie drink en jy sien die vreemde goed, mag jy dalk dink die vrou het haar varkies verloor, wel jy sal nie ver verkeerd wees nie, maar dit is ook vir my ʼn sigbare en kleurvolle teken van beter dinge wat op pad is. As ek elke dag na iets moois kyk, kan ek nie in lelik glo nie. Plante herinner die mensdom al vir hoe lank dat ʼn snoeiproses noodsaaklik is, dis net nie lekker om daaraan te dink nie, daarom vergeet ek graag daardie prentjie.

Wanneer die populierbome binnekort kaal en weerloos gaan staan in die tuin, gaan elkeen ʼn bont gehekelde sokkie om sy lyf hê om vir die boom (en vir my) te herinner dat nuwe lewe gaan groei na die winterslaap.

Volgende jaar as ek op my stoep sit en terugdink aan hierdie tyd, gaan my bont boomsokkie bome nog steeds daar staan as bakens van hoop in ʼn tyd toe dit moeilik was om dit te kon raaksien. En as ons iets moois (al is dit ʼn sokkie met gate in wat skewe kyke sal kry) in ʼn donker tyd kan sien, sal dit soveel makliker wees wanneer die lig weer skyn.

2 responses to “Bome dra sokkies”

  1. Ek sit hier in my hoekie en grinnik oor jou boomsokkies. Man, nou, sommer hier op jou blog, stap ek oor vir koffie.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: