Dag ?

aabd0477-a114-4031-b0d9-918e13ae2930Tydens die Groot Griep in die vroeë 1900’s het mense by bymekaarkomplekke gehoor van die nare virus en dat hulle by hul huise moet bly. Kerke was toe vir ʼn lang ruk en daar was geen dienste gehou nie. Min mense het lopende water en sanitasiegeriewe soos ons vandag gehad en baie het die stryd teen die Groot Griep verloor. Dit was ʼn arm tyd, waarvan ons net kan lees vandag. Ons was nie daar om dit eerstehands te beleef nie.

‘n Honderd jaar later is dit weer dieselfde storie, maar die keer word die geskiedenis digitaal vasgevang en sal ons kinders se kinders eendag van hierdie tyd ʼn meer realistiese prentjie kan kry as wat ons van die Groot Griep weet.

Verwarring is ʼn gevoel wat kom en gaan, tussenin in die krake vul ons dit met grappies, geloof word getoets en ons is kalm voor ons kinders en die huis het verander in ʼn pretpark vir ʼn baie lang tyd. Die kiem wat die strate kom leeg maak het en die mense se harte kom omkrap het, los darem ons kinders uit. Hulle speel en kleur in en het prentjies van ʼn vriendelike monstertjie gesien op ʼn video wat mense koors gee en laat sleg voel en dat dit belangrik is om jou hande te was. Dit is al. As hulle eendag self kan lees en deur artikels blaai, sal hulle wel sien wat die nare waarheid agter die oulike blou monstertjie was, maar vir nou moet hulle speel. Dis in elk geval nie die enigste nare waarheid wat mens weghou van jou kind nie, die wêreld het klomp donker hoeke en stories gehad voor die virus gekom het wat ons ook van hulle af weggehou het.

Ek onthou in ons dramaklas het Prof. Nico Luwes altyd gesê: literatuur, teater en kuns loop hand aan hand en dit opsigself is maar net ʼn weerspieëling van die werklikheid. Na hierdie veldbrand gaan mense uitgehonger wees vir lag en gesels, maar nog meer: antwoorde. Sonder dat ek doelbewus soek na antwoorde beland ek tog nou en dan op ʼn teaterstoel en dan raak my tenk weer vol. Ek sien die wêreld weer van bo af as ʼn geheel en die klein klippies voor my is nie meer so groot nie.

Ek sien uit om weer die sagte fluweel van ʼn teaterstoel te kan voel en die afwagting vir dit wat op die verhoog gaan gebeur, om die omgekeerde wêreld weer reg te draai op die verhoog, sodat almal wat uitstap weer kan asemhaal. Ek is nuuskierig vir nuwe stories wat gaan ontplooi in hierdie tyd in splinternuwe boeke en om te kan staan voor ʼn skildery en te weet in watter tyd hierdie kunswerk geskep is, met ʼn sweempie hoop tussendeur al die kwaai kwas hale.

Paasfees word juis meer gepas gevier hierdie jaar, waar almal rustig by hul huise in eenvoud verkeer. ʼn Eenvoud wat vir almal vreemd is, want meeste van ons is gewoond aan te veel kos op ʼn tafel. Tog besef ek dat om minder te hê nog steeds meer as genoeg is en dat te veel onnodig is. Minder is goed, anders neem dit die hele fokus weg van die viering.

Die wêreld is kwaad vir sy kinders wat alles so verniel het en het almal na hul huise toe gestuur om te gaan dink oor hul sondes. As die keuse ons sʼn was, sou daar nooit ʼn goeie tyd gewees het vir ʼn dinktyd nie, gelukkig was dit nie in ons hande en daarom is ons waar ons is.

Ons het almal soos kinders geskree in die toe kamer omdat ons nou hier moet sit en nie buite kan speel nie. Toe ontdek ons later ou speelgoed onder die bed, blaai deur boekies en begin spring lekker op die bed en besef dit is nie eintlik ʼn straf om kamer toe te gaan nie.

Die mooiste ding van hierdie hele tyd, is dat maskers val en alles wat aangeplak is vir die wêreld se erkenning gestroop word. Mense raak weer mense en eerlikheid kry weer sy oeroue betekenis terug wat hy verdien.

Môre is nog ʼn dag, party dae vergeet ek om te tel, dit maak nie meer saak nie. Ons gaan paaseiers eet en Jan wil ʼn koek versier. Dis eintlik om so bietjie konsert te hou en jou te verbeel jy is op ʼn ander plek en ʼn ander tyd en dis lekker.

One response to “Dag ?”

  1. Oe Laan, jy vat dit mooi vas. Geniet hierdie stiltyd! As die rotresies weer begin, gaan ek heel agter draf…..met ‘n kostuum aan en foto’s neem van die skare. en vir almal soene gooi.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: