Dag 8

wooden door with doorlock
Photo by Boris Sopko on Pexels.com

ʼn Week gelede het ek nie geweet die regering kan jou dwing om in jou huis te bly nie, nog minder dat daar ʼn naam vir so iets is. Toe ons die nuus ontvang het, was ons houtgerus en iewers tussen niks en nêrens waar mens die sterre helder kan sien en waar mense nie gespanne raak oor swak rentekoerse en kieme nie. Ons het nog so op die stoep gesit en die vleisie op die kole bekyk wat rustig braai, met ʼn wyntjie in die hand, en net daar besluit ons gaan rebelleer: ons gaan nie bang wees vir hierdie massahisterie nie, ons gaan voort met ons vakansieplanne.

Terwyl ons nog so braaf is, begin die selfone een na die ander flikker: “waar is julle nou?”, “Laan, ons is bekommerd, julle moet terugkom”, “waar bly julle vir lockdown”, “het jy geweet die weermag gaan die paaie patrolleer om mense uit die strate te hou?” Omdat min dinge in ons land regtig onder beheer gebring kan word, het ons nog steeds nie vir ons te veel hieraan gesteur nie, want hoeveel weermagmanne is daar tog nou regtig wat mense van een punt na ʼn volgende kan verskuif? Toe gesels die president op televisie en maan mense aan dat hulle 72 uur het om voor te berei om vir 21 dae by hul huise te moet bly.

Stadigaan het ons maar vir mekaar met groot oë begin loer en besef ons kan nie uit hierdie ding kom soos skoolkinders wat ʼn periode mis om ʼn pie oorkant die straat te gaan koop en iewers te gaan sit en eet nie. Iewers tussendeur die grootwordjare het ons net te verantwoordelik geword om nou so ʼn gewaagde toertjie te probeer. Ons het toe ons roete herbeplan en was om 19:00 verlede week Donderdagaand tuis, net mooi betyds.

Aanvanklik was dit maar ʼn bietjie ʼn vervelige storie en ons het nogal soos ingehokte diere gevoel. Eweskielik kan ons net dink aan goed buite die huis wat ons eerder wil doen. Ek moet bieg ek was ook bietjie tranerig, want wat as die hele wêreld verwoes word en net ek en my gesin oorleef en ons loop tussendeur murasies en vure deur opsoek na ʼn druppeltjie water. Toe besef ek weer ons het al die hulpbronne om oor die weg mee te kom en dat ons werke nie op hierdie stadium in gedrang is nie. Basies kan ons aangaan soos normaal, ons moet net beurte maak om die kinders te vermaak en hulle konstruktief besig hou.

Ek was vreeslik op my senuwees dat die kinders soos wilde diere gaan raak, maar tot my verbasing is hulle rustig en kalm. Natuurlik is daar tye wat dit voel of ek wil mal raak, maar oor die algemeen heers daar rustigheid oor ons huis. Die kinders hou eerder hulself besig as om geskool te word deur hul ma en dit maak dat hul verbeelding nuwe woema gekry het.

Ons speel speletjies, maak vir mekaar koffie, maak grappies en lag oor die vreemdheid van alles. Soos wat ek in kaste loer kom ek op soveel halwe projekte af wat nie kon klaar kom nie, as gevolg van te min tyd, resepteboeke wat huil omdat ek nog nie iets uit hulle gemaak het nie, boeke wat nog nie gelees is nie, inkleurboeke wat feitlik nog skoon is en dan besef ek eintlik het ons weereens te min tyd om alles te doen.

Ons het ʼn vakansie in ons eie huis, een wat ons nie sommer gou sal vergeet nie. Ek hoop dat wanneer ons weer in die “regte lewe” is, ons iets van hierdie tyd met ons sal saamvat, dat ons dinge stadiger sal doen en onthou om in die oomblik te bly en om vir mekaar te lag soos nou.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.