Ons raak weer klein

b13165c0-412f-4cb6-a9bf-61291e153862Ek sal nou nie myself kroon as ʼn dapper muis nie. Ek was van kleins af bang vir enige ding wat bietjie bo my vuurmaakplek lyk. Ek onthou een van die eerste dinge wat vir my vreesaanjaend gelyk het, was die duikplank tydens swemlesse. Die kinders wat net wil leer oorleef in die water het basiese goed geleer by tannie Jeanne aan die vlak kant van die swembad, die kinders wat swem wou bemeester het, het aan die diep kant geswem by tannie Lulu. Soms was daar ʼn klein duikplank, eintlik nie vreeslik hoog nie, ek dink op die hoogste 2 m hoog, dan kon almal net bietjie ontspan en “vir die lekker” daar afspring. Dit was dan gewoonlik my que om uit te klim en my handdoek van die draad af te haal.

Ek onthou ek het een keer in ons dam geval by die huis omdat ek vooroor gebuk het om paddavissies te vang. Genadiglik was my broer daar en die het my vinnig uit die bruin water gebring. My ma het vir my droë klere aangetrek en ek was maar bietjie stillerig vir die res van die dag en het maar binne gebly en pop gespeel.

Soos ek ouer geword het, het ek begin leer hoe nodig dit is om soms van die duikplank af te spring en dat mens nie altyd veel van ʼn keuse het nie en dat wanneer mens dit wel gedoen het, lewe jy nog steeds en het jy iets anders ervaar wat jy nie noodwendig sou ervaar nie. Eksamens, om ʼn kêrel af te sê, om ʼn loopbaankeuse te maak, om vriende te kies – niks het dood gemaak nie, net groot.

So het almal maar ʼn tydlyn waar jy dinge besef en optel langs die pad om verder saam met jou te dra, party goed haal jy weer uit jou rugsak wat jy liewer wil vergeet. Op my reis met grootword, het ek heeltyd een doel voor oë (nou nog): as ek eendag groot is. As mens groter is, hanteer jy dinge beter, maak jy beter besluite, voel jy beter oor jouself. Of so het ek gedink.

Die laaste ruk, sien ek klomp grootmense wat kla, paniek saai en mekaar net meer wil laat bekommer. As daar gekla word, word daar gekyk wie het die grootste moeilikheid en met wie gaan dit die slegste. Slegte nuus word uitgeruil en aangedik, spekulasies word gemaak en morbiede voorspellings vir die toekoms.

Ek weet nie hoekom ek so graag groot wou wees nie. Ek het besluit ek raak nou eerder oud as groot. As oumense van die duikplank moet afspring, al is hulle bang, sal hulle dit doen, want dit moet gedoen word en dit is hoe die verloop van dinge is. As grootmense van die duikplank moet afspring sal daar weer planne opgetrek word oor die hoogte, die impak en die gevolge van die aksie.

Ons het vandag skool-skool gespeel, ons het blokkies gebou en ʼn vulkaan gemaak en na ete Rummikub gespeel.

Ons besef weer waar ons krag lê, ons besef weer dat ons mekaar nodig het, ons sien mekaar weer raak en ons raak weer klein.c292736e-5511-4994-b015-dde93007ffa7

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.