“Kankhi”

9db8d41f-c3e7-482f-b34d-b26d7b6aace2ʼn Jaar gelede is my ma met borskanker gediagnoseer, nie een van ons in die familie het dit ooit as ʼn doodsvonnis beskou nie, maar ons almal het maar onseker en huiwerig saam met haar voel-voel die nuwe vreemde ingegaan.

Eers was dit langpad Bloemfontein toe, vir die mastektomie en toe saggies en mooi kom terugry en herstel op Kuruman by my sussie sodat sy nie alleen hoef te wees nie. Ek het darem gaan kuier in die tyd wat sy nog daar was, ek kon nie veel doen nie, nie eens ʼn stywe druk gee nie, want alles was nog te seer. Toe sy beter is en self weer op die been is, is sy weer terug Upington toe. Nie lank op die dorp nie, het sy agtergekom haar wond het infeksie opgedoen en moes sy weer ʼn reeks antibiotika kry omdat die vorige reeks wat die dokter voorgeskryf het, dit juis teengewerk het.

Toe begin die chemoterapie, van ses sessies, elke drie weke. Aan die begin het dit relatief goed gegaan, tot die laaste twee waar die moegheid nie wou weg nie en net sodra sy weer lekker voel is dit weer tyd vir die volgende gif. Dit het soos ʼn ewigheid gevoel en die familie chat het bestaan uit sperdatums en klein oorwinnings met elke keer wat sy klaar is met nog een.

Toe kom die bestraling, van 30 sessies. Bestraling kan nie op Upington gedoen word nie, so toe moes sy na ʼn groot plek toe kom vir die behandeling. Die susters het haar na die Sodom en Gomora gebring en met lang arms totsiens gesê en vir oulaas by winkels gaan inloer voor sy in my sirkus-roetine kom instap. Sy was vir nege weke by my, sy was nog nooit so lank weg van haar huis af nie. Elke dag die verkeer aandurf, elke dag deur dieselfde hekke en ingange loop om by die spesiale masjien uit te kom wat Upington nie het nie. Die lang lys met 30 sessies was op die yskas geplak en gretig het ek elke dag die sessie kom doodtrek wat afgehandel is. Nooit het dit gevoel of ons nader aan die einde kom nie. En Maandagoggend om 09:30 het my ma klaar gemaak en ons het wraggies by nommer 30 uitgekom het wat eintlik soos nommer 300 gevoel het.

Alhoewel alles so geroetineerd en dieselfde gevoel het elke dag, was daar elke dag iets om oor te kon lag of om oor vies te word. Ek onthou terwyl ek in die wagkamer gesit en wag het soggens, was daar ʼn hout boksie met wol, hekel – en breipenne. Ek het aangeneem dit is seker maar om blokkies te maak en dan word dit geskenk vir behoeftiges. So het ek begin werskaf met ʼn patroon wat nog vars was in my kop. Vir ʼn hele rukkie daarna was my hekelwerk die volgende oggend losgetrek en het die ander persoon ʼn liederlike dingetjie vol gate begin brei. Dan torring ek haar maaksel uit en begin weer my hoek-tot-hoek kombersie, net om die volgende môre weer daar te kom en al die blou wol op die ander antie se breipen te sien. Weer dieselfde muis wat deur die nag kom gate kou het, was daar.

Ek onthou ʼn jong meisie van 14, brandmaer, wat ook ingekom het vir bestraling. Toe ek so oud soos sy was, het ek nie eens gedink aan gesondheid nie. Ek het net vrybriefies geskryf en my huiswerkboek versier en musiek geluister in my kamer. Sy het eendag vir my gevra ek moet haar wys hoe om te hekel. Ek is nie juis ʼn pro nie, maar die bietjie wat ek ken het ek vir haar gewys, ek hoop sy onthou dit nog. Ek het darem vir haar gewys hoe om dit op YouTube ook op te spoor as sy sou vashaak. Haar ouma het ʼn foto van haar geneem terwyl ek vir haar gesit en wys het en het na die tyd vir my gesê dit is vir haar dagboek wat sy skryf van haar kankerreis.

Een van die heel lekkerste dae, was toe ons in een oggend by ‘n winkel kon uitstap met ‘n splinternuwe prostese, twee bra’s en ‘n swembroek om die prosteses te kan akkommodeer. Ons was teen daardie tyd al redelik gewoond om elke keer in nog ‘n wagkamer te gaan sit en weer na ‘n nuwe vreemde plek toe te ry.

Daar was vir ʼn rukkie weermag vrouens wat gekom het vir behandeling, ek en my ma het nogal baie oor hulle gewonder en eers teen die einde het hulle begin geselserig raak sodat ons meer van hulle kon leer. Daar was eendag ʼn bederfdag gehou vir die vrouens wat kom vir bestraling. Hulle het ʼn paar grimering en velsorg wenke geleer en kon die grimering as geskenk kry om self mee te eksperimenteer by die huis. Van toe af het ek die een weermagvrou met rooi lippe gesien en ʼn rukkie later met ʼn netjiese pruik.

Daar het ʼn oom en tannie van Klerksdorp altyd naby my kom sit terwyl ek gewag het. Ek het hulle hele agtergrond later geken en geweet hoekom hulle moes trek en hoekom hulle finansieel so taai trek. Ek het die tannie weer eendag in Checkers raakgeloop en dit was nogal lekker om te sien sy koop kos en bederfies.

Ek het met my ma se toestemming haar dagboek wat sy gehou het, neergepen:

My Kankerpad   2019 – ʼn Helse Jaar

Ek het gehoor! Ek glo dit nie – hulle maak beslis ʼn fout. Ek voel dan niks. Ek voel soos altyd – niks pyn of klop nie.

Knop moes eers waai, toe die regterbors – wonde ontsteek – dit ontsmet en maak skoon – versorg, verpleeg – dis pille en salwe. Dis vrywe en oefen – arm mag nie styf word nie. Ek voel beskimmeld en verdwaas ek begewe my nou op ʼn onbekende pad – dis vreemde mense en vreemde terme – ek hoort nie daar nie – voel nie tuis nie. Ek leer ken vir Suster Padmaker, Dr. Smalberger, Dr. Conradie se spreekkamer en die ander kankerpasiënte. Stadig gaan ʼn nuwe wêreld oop. Ek sien moed en vasbyt – ek sien geloof en vertroue. Ek leer ken heerlike humor elke dag. Elke mens dra sy swaar op sy eie unieke manier. Party van die kankermaats raak stil langs die pad, hulle het die stryd verloor. Ander hou vas en kry later goeie nuus. Remissie: dit raak ʼn toorwoord. Dit raak die wenstreep. Die weersiens elke drie weke vir chemo is later lekker – jy hoor weer hoe dit met die ander gaan. Hoor hoe die chemo hulle affekteer: vel raak dor, droog uit, naels bars oop, naar, ai tog, hare val uit. Jy lyk nie goed nie, jy voel ellendig, maar jy hou moed.

So twee dae na die chemo trek hy jou plat – sonder krag lê jy vir ʼn week: kragteloos soos ʼn geslagde dier, jy bloei net nie. Stadig kom die beterskap. Jy is net weer tip top, dan is drie weke verby en dan begin jy weer voor. Jy leer ken nou jou mense – die doeners kom na vore, die helpers, die troosters, die verpleegsters. Elke mens help op sy unieke manier. Elke manier is nodig en word waardeer. Die kinders is goud werd, moet nooit dink dat jare se gebed niks beteken nie – bid vir ander mense, dit werk. ʼn Vriendin het gebid dat God my op sy skoot sal saggies vashou en mooi na my sal kyk, want ek is reeds alleen nou is ek nog siek ook. Is dit nie ongelooflik dierbaar nie. Ek is nou ʼn skootsitter en dis wonderlik. Ek wag nou vir die vyfde chemo. Hopelik kry ek net ses. Dis nie iets om na uit te sien nie. Ek is al moedeloos van sleg voel en sleg lyk. Dis lekker om in die hitte geen hare te hê nie, maar ek lyk te sleg vir die openbare oog. Ek dra kopdoeke en hoede in die openbaar en dit is als behalwe lekker in Desember – Februarie in Upington. Ek vertrou dat my donsies vinnig sal groei voor ek moet gaan vir bestraling. My pienk kopvel is regtig nie aanskoulik nie, ou Janna sê: “Elsa, dit lyk nie so sleg nie.” Maar my spieël praat ʼn ander storie.

Nou is Ma se kankerpad verby. Ons het almal saam met Ma gestap, van hare afskeer, tot grappe maak om die hele gedoente net meer verteerbaar te maak. Kanker is oor die algemeen maar ʼn morbiede woord, daarom het ons dit sommer kankhi gedoop, soos wat dit sal klink in Kaapse Afrikaans as jy dit foneties so moes uitspreek.

Die donse groei weer terug, die kopdoeke gaan binnekort waai, die seerplek van die bestraling is aan die gesond word en dan kan Ma die nuwe tietie dra en as Ma warm kry in Ma se nuwe swemklere inspring wat plek maak vir die valsie.

One Comment Add yours

  1. Elize Smit says:

    My dierbare mrs E….. jy is ‘n voorbeeld vir baie. Jy en jou sussies sal sowaar nog die Drakensberge kaalvoet kan oorstap, want julle het staal in julle. Elana, jy het jou ma se staal ge-erf…. ‘n ma se droomdogter…… Elize

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.