Anders

agriculture animals baby blur
Photo by Trinity Kubassek on Pexels.com

Anders is iets wat nie almal in hul lewe soek nie, ʼn meer gewilde woord is “dieselfde”. Skaapmentaliteit is lekker veilig, want dan loop jy nie met ʼn teiken op jou rug rond nie en jy staan nie die kans om bespreek te word nie. Veral tieners het nogal ʼn ding met “dieselfde”. Wanneer jou emosies en hormone deurmekaar geklits is, moet jy ten minste dieselfde lyk soos die res, sodat jy kan saamsmelt met die omgewing en aanvaarbaar lyk.

As jy klaar is met skool, dan gaan studeer of jy begin dadelik werk en die lewe verander jou in ʼn grootmens, met verantwoordelikhede en rekeninge om te betaal. Iewers later op jou pad, kom daar dalk kinders in die huis in en as hulle nie meer babas is nie en hulle begin ontwikkel hul eie smaak, dan begin jy weer terugflitse van jou kinderdae kry.

Wanneer presies die beginpunt is vir wanneer die boksiesisteem in mens se lewe begin inskop is onbeduidend, party mense geniet hulle boksies en ander wil net so gou moontlik daaruit klim. Boksies perk jou in en sê vir jou wie jy is, nog voordat jy self besluit het daaroor. Oulike, flukse mammas dra oefenklere en grimering, as jy soos ʼn oulike mamma wil lyk, trek gerus daardie pakkie aan. Bypassende dekor en meubels met drie verskillende kleure wat herhaal sê: sjoe meisie, jy het goeie smaak en jy is stylvol! Kinders wat baie aktiwiteite doen (meer as wat hulle kapasiteit kan hanteer) sê: jy stel jou kind aan alles bloot en is ʼn goeie ouer. As jy die dsTV premium pakket het, is jy ryk en het jy geld om rond te gooi. As jy ʼn Superdry hemp dra, beteken dit jy is regtig ryk. So kan ek aangaan. Aangesien hierdie vooropgestelde idees en sosiale reëls al so swaar weeg, volg mense dit slaafs na. Dit is maklik so, die dinkwerk is reeds vir jou gedoen, jy kan net al daardie items aanskaf en dan is jy veilig en lyk jy soos die prentjie wat jy graag wil skets vir die wêreld.

Maar jou binneste is net joune, dit kan jy nie bestel op Takealot nadat jy die beskrywing gelees het en dit in jou trollie gooi nie. Ons almal se binnestes is anders, of jy nou daarvan hou of nie.

Elke hart, verweef met verskillende afmetings van geesdrif, sentiment, logika, goedhartigheid, nederigheid, waansin, humor, nuuskierigheid, pligsbesef en lewenskrag. As jou binneste so interessant is en so vol unieke elemente is wat mens nêrens anders sal kan ervaar nie, hoekom dan dieselfde wees?

Om trots te wees op wie jy is, met genoeg nederigheid om te besef jy moet altyd buigbaar wees om iets nuuts te leer, is mos nie verwaand nie – dit is nodig. Daar is ʼn rede hoekom jou gedagtes op ʼn sekere manier bedraad is, dit is sodat jy jou binneste moet deel met die mense om jou.

As jou fokus verskuif na om van binne af buitentoe te lewe, gaan dit wat jy wys ook verander, want jy gaan eers dink of dit regtig is wie jy is, voordat jy net ʼn opinie of ʼn gier blindelings volg.

As jy lanklaas geloer het na jou binneste, maak ʼn afspraak met jouself en ontdek weer die cool mens wat jy is. Op so ʼn manier maak ons een vir een die lang ry van skape korter.

group of animal on hill
Photo by Süleyman Şahan on Pexels.com

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.