Die afgelope ruk is ek meer bewus van mense om my wat seer het. Almal se seer is anders verpak en onder verskillende lae skuil daar ʼn stuk vrot ding, hoe langer hy lê en broei en nie lig kry nie, hoe meer lae groei oor hom en hoe seerder raak die seer. Ek het Google geraadpleeg, maar was nogal vieserig toe ek nie ʼn ordentlike beskrywing van “seer” kry nie. Wat is seer? Is dit dan ʼn reeks van besluite wat mens geneem het om elke keer die vrot ding in daai boks toe te draai? Ek weet nie. Ek raai maar.
Seer is ʼn simpel ding, want die oomblik as jy dit het, dan begin ʼn klomp vrae jou teister: “hoekom ek?”; “as ek A, B, of C gekies het, sou ek nie nou gewees het waar ek nou is nie”; “wat op aarde het ek verkeerd gedoen wat so verskriklik is, dat ek so gestraf moet word?”; “hoe gaan ek hier uitkom”. Dit is soos ‘n klomp boelies op fietse wat jou jaag en jy ry met stadige driewiel en hulle gooi jou met tamaties en suurlemoene en enige derglike ding wat hulle hul hande op kan lê.
Die eerste ding wat ek gewoonlik doen as ek seer het is om die vrot ding wat sopas met my gebeur het, in ʼn boks te gooi en te liasseer met ʼn plakker: “hanteer later op ʼn geleë tyd”. Die lewe vereis dat jy in ʼn wieletjie moet hardloop teen ʼn seker spoed, wanneer jy ʼn blaaskans vat om vinnig ʼn kossie te pik of om ʼn bolletjie in die hoek van jou hokkie te maak, kan jy dalk ʼn tydjie afknyp om administratiewe takies te doen, soos om om jou vrot boksie nader te sleep om ʼn paar sake af te handel.
Ek is egter nie so gedissiplineerd nie, dus werk my liasseringsmodel nie so goed nie, want die boks raak oorvol, want ek haal niks uit nie. Ek het ʼn prentjie-brein, so ek sien ʼn boks met allerhande sif groente wat daar lê”: ʼn brandsiek wortel, ʼn verdagte aartappel en ʼn paar uie wat lyk of hulle so oud soos ek is. Die probleem kom by die uithaal van die vrot. Die uithaal is moeite. Ek moet besluit wat met elkeen van daardie goed moet gebeur en moet dit individueel hanteer en dit vat tyd, tyd wat ek eerder kon gebruik het om konstruktiewe dinge te doen sodat ek kan wys wat ek vir die dag vermag het.
Dit het vir my ʼn probleem begin raak, want ek het besef ek sit met ʼn boks met ʼn onaardse reuk, dit is besig om mense om my weg te jaag en om die omgewing te vergiftig. Die ding moet weg en soos wat ek besig is om planne te maak, druk ek nog ʼn paar weke oue pampoen ook nog by die spulletjie. Ek kan nie van dit sop kook nie, ek kan nie dit uitdeel vir ander nie, ek kan dit nie vir kompos gebruik nie, want dit gee nie meer lewe nie, dit is nou net dooie gif.
As ek in die kerk sit en op die punt van my stoel vir ʼn antwoord wag om ʼn paar vinnige wenke te kry om in ʼn japtrap van die stink boks ontslae te raak, hoor ek nie wat ek wil nie. As ek mooi goed lees, voel ek meer skuldig oor die simpel boks.
Ek het nou maar besluit tot tyd en wyl ek nie ʼn plan het om van hom ontslae te raak nie, gaan ek net nie nuwe goed bygooi nie, so ek moet die groente wat ek het dadelik verwerk en in die kos gebruik sodat dit nog uitgedeel kan word en vir ander iets beteken.
So was dit, soos elke ander aand, badtyd vanaand. Ons gaan deur ons ritueel van bruin voete skrop, waar seuntjievoete oral getrap het, daar is ʼn oor-en-weer gespoeg, ek pleit dat ek hulle tande self kan borsel sodat ek weet dis mooi skoon, Scotch Emulsion, dan Zinplex, gevolg deur neussproei.
Die lywe moet uit die bad uit kom, die gestry oor wie nog wil bad is al voorspelbaar, so ek wag maar tot ons konsessie bereik het. Jan trek sy jamies self aan en vir Ben kan ek nog vol poeier gooi, want dit het nog nie uncool geword vir hom nie. Bybelstorie dan gewone storie.
Ons lees in die Bybelstorie dat ʼn ware superheld nie mense seer maak as hy kwaad word nie en dat hy kies om eerder dinge rustig en kalm te hanteer. Ons gewone storie is op sy einde en ons lees van die Botha-broers wat hul boetie se boelies gaan regsien het by die skool en vir hom jammer gesê het dat hulle so aan hom gekarring het. Elke kind kry sy hasie-melk, “lief vir jou Jan, lief vir jou Ben, lekker slaap julle manne”. Lig af. Ek trek die deur toe en sug, soos elke ander aand. Die sug help my om te besef: dit wat van die dag oor is, is nou myne.
Ek gaan lê op die bed en wonder of ek so vroeg op ʼn Saterdagaand al kan bad en jamies en of ek iets sinvols moet doen. Jan roep. Hier gaan ek weer.
“Mamma, ek wil nie alleen wees nie, kom lê net bietjie by my.” Met genadige geduld sê ek: “okei Jannie”.
“Mamma?”
“Ja Jannie?”
“Wat is jou gunsteling diere?”
Eweskielik moet ek my brein herbedraad, sodat ek nou diere voor my kan sien en nie aan ander goed dink nie.
“Uhm, ek hou baie van eekhorings”.
“Dit kan nie al wees nie, wat nog?”
Nou moet ek nog ʼn paar ligte aanskakel, want ek dink hierdie gaan nie vinnig end kry nie, so ek moet ʼn hele paar diere nou vinnig in gelid kry.
“Ek hou ook baie van ʼn koala beertjie.”
“Dit is net twee diere mamma, wat nog?”
Elana, ruk jouself reg. Die kind wil weet wat is al jou gunsteling diere, dink nou ernstig hieroor.
“Mamma hou ook baie van hasies, baba perdjies en wollerige katjies is ook vir my oulik.”
“Mamma?”
“Ja Jantjie?”
“Jy is my heel beste este mamma in die hele wêreld en ek is super duper baie lief vir jou!”
“Ek vir jou ook Jannie.”
“Lekker slaap seuntjie.”
Sit lig af.
Staan bietjie stil en die sug wil nie kom nie.
Ek begin wonder weer oor die boks, want ek ruik nie meer iets nie. Ek stap toe kombuis toe om te gaan loer en wraggies, is die inhoud minder. Daar lê nog ʼn paar stinkes, maar ek weet nou hoe om hulle weg te kry.
Ek gaan môre aand weer oor wollerige diere met my seuntjie in sy bed gesels.
Leave a Reply