Saggies praat…

Blykbaar het my ouma Pien gesê mens moet versigtig wees vir mense wat so saggies praat, want hulle skerp kant is gewoonlik die skerpste. Ek het haar dit nooit hoor sê nie, maar my ma onthou dit en het my vertel van haar teorie.

Ek was op universiteit toe ouma Pien oorlede is, ek onthou ek het nog vir haar begrafnis Upington toe gegaan en die niggies wat naby haar grootgeword het op Klippunt, het baie meer as ek gehuil. Ek het vir ouma Pien net Sondae gesien as ons laatmiddae gaan kuier het, dan het die grootmense gesit en gesels en die kinders moes speel. Ek het min met haar gesels, maar wat ek van haar onthou is haar manier van dinge doen. Sy het arm grootgeword en die lewe het haar geleer om baie van ʼn bietjie te maak en om al die bietjies dan weer vir ander uit te deel.

Sy het nooit baie gehad nie, maar of dit nou daisy saad, vye of ‘n bakkie dadels was, sy het vir almal ʼn klein rantsoenpakkie gepak.  Ek was nooit mal oor haar harde vrugterolle nie, dit was taai en dit het nie soos lekkers geproe nie. My ouma Ella wat op die dorp gebly het, het my aan Smarties gewoond gemaak en ek kon net nooit waardering vir ʼn vrugterol hê nie, want dit het nie sjokolade in die middel nie.

Ouma Pien het ook elke Kersfees vir al ons niggies slaapsokkies gebrei. Sy het ʼn standaard patroon gehad en dit was ʼn one size fits all sokkie. Sy het nooit berge wol gehad nie en het met haar bietjies afval wolletjies die allervreemdste kleurkombinasies gebruik vir ons slaapsokkies: liggeel en bruin, ligblou en pers, maroen en groen. Ek onthou haar as ʼn doener. Sy het altyd iets gedoen, meestal vir ander.

Sy was altyd gewillig en sy kon so lekker lag dat sy haar hele rok kon natmaak. Sy het smokrokkies vir ons babapoppe gemaak en sy het met haar min kos vir die hele familie laat dik eet op ʼn Sondag. Ek hou so baie van alles wat ek van haar onthou, sonder dat ek gesprekke kan oproep wat ek met haar gehad het.

Dit wat ek van haar weet, is wat ek waargeneem het van haar. Sy het nie doekies omgedraai nie en sy het nie snaakse verkleinwoordjies gebruik nie. Ouma Pien het ʼn mossie, nie ʼn flambojante, eksotiese voël nie, ʼn kommin mossie wat almal miskyk, makgemaak. Hy het op haar skouer gesit en sy het vir hom klein stukkies kos gevoer, terwyl hy soos ʼn groot voël gevoel het daar hoog op haar skouer.

Ek het gister weer op ʼn paar tropiese slaapsokkies afgekom wat ek nog elke winter dra, die geel en bruin kombinasie. Dit is vir my lekker om dit te dra, dit herinner my aan ʼn vrou wat nie ʼn duit omgegee het oor grênd en fênsie nie, iemand wat gestroop is van maskers en aansit. Miskien is ouma Pien se aandeel in my lewe die weersin wat ek vandag in pretensie het.

Aanplak, aansit, saggies praat, ordentlike giggels, ongekruide taal (want vloekwoorde is vir onopgevoedes), betaamlike praatjies in ʼn geselskap en oordrewe vriendelikheid is dinge wat my effe laat jeuk. Ouma Pien het dalk ʼn karige bestaan gevoer, maar dit wat ek van haar onthou en wat ingeëts is op my, het meer waarde as ʼn ouma met klomp blink goed.

Ek dink ook mense wat saggies praat klink verdag, maar kon nog nooit my vinger daarop sit en sê hoekom ek so sê nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.