Rus in vrede
hier lê ek nou
is jy bang vir dood of
was jy bang vir die lewe?
‘n Huldeblyk van
gemorsde tyd
word jy oorweldig
deur al die spyt
In die oë van geliefdes
sien ek hoe jy liefhet
sien ek hoe jy bly vrees
oor wat sou wees
Vergewe jouself
jy gaan swaar dra
aan al die seer wat jy opgaar
skud skuld van jou rug af
spog met jou letsels….
– Bouwer Bosch en Almero
Menigte male het ek myself al betrap waar ek besef ek is boosaardig kwaad vir myself oor iets wat lank terug gebeur het en wat ek niks aan kan doen nie. Soms is dit ‘n mengsel van spyt en woede en dan doen voel dit of ek op moedverloor-se-vlakte sit en uitstaar.
Ek moes nie dit gedink het nie; ek moes nie dat gesê het nie; ek moes geduldig wees; ek moes meer geluister het voordat ek sommer net aan ‘n vinnige oplossing vir ‘n vriendin dink; ek moes gegee het; ek moes tyd maak; ek moes sagter wees; ek moes opstaan vir myself; ek moes die minste wees; ek moes myself in sy/haar skoene plaas; ek moes meer moeite doen met mense.
Ons almal wil sterk en in beheer van ons lewens lyk. Ons steek ons seer weg, sodat niemand dit kan sien nie, want om te praat oor seer is om jou swakheid te wys en blykbaar is dit nie ‘n goeie ding nie.
Tog floreer bome op snoei, dit moedig hulle aan om ‘n nuwe rigting in te slaan en uit die aard van die natuur, maak hulle aanpassings, sonder enige uitsondering. As daar dalk ‘n skaam boom was, wat graag sy afgesnoeide tak sou wou wegsteek, het hy nie ‘n opsie van ‘n gehekelde mussie of ‘n kombersie wat hy oor sy knop kan gooi nie. Hy wys sy letsel en groei voort en sit dit wat met hom gebeur het, letterlik agter hom.
Mense wil wegsteek en wegkruip, en met moeite dit vir die wêreld wegsteek. Anti-depressant sê ‘n mens met ‘n gedempte stem, want dit beteken jy het die stryd op jou eie verloor en jy is nie sterk genoeg om uit jou eie put te kan klim nie. Rekmerke en keisersneës word weggesteek, want alhoewel jy persoonlik dink dis ‘n teken van lewe sal die wêreld nogtans gril. Ons pas aan van geselskap tot geselskap om seker te maak elke groep vind jou aanvaarbaar en sien nie jou letsels raak nie. Niemand mag nie. As dit gebeur, dan is die illusie van perfek en sterk wat jy probeer skep daarmee heen.
Vreemde konsep om te dink dat jy met jou seer en donker tye kan spog? Hoekom nie? Dit is niks anders as ‘n oorwinning nie. Ons vier allerhande fisiese oorwinnings, hoekom dan emosionele oorwinnings agterweë laat? Hoekom wegkruip as jy besig is om oorlog te voer? Jy sal mos beter vaar as jy ‘n paar “wagte” kan aanstel om jou aanspreeklik te hou en aan te moedig.
Mens kan wegraak in musiek se lirieke, lank staar na ‘n mooi skildery en bewoë raak in ‘n emosionele fliek, want dit is rou – die kunstenaars kan met hul onderskeie gehore praat en daar kan met hulle werk geïdentifiseer word omdat dit eerlik is. Dit sou soveel makliker gewees het as ons in ons alledaagse lewe minder van ‘n front opgesit het en ander meer op hul gemaak laat voel het deur vir hulle te laat verstaan dat dit okei is. Omdat jy seer gehad het, beteken dit jy kan ander met deernis hanteer, omdat jy weet hoe dit voel, maar te min van ons dit, want te veel van ons voel nog alleen.
Die liedjie van Bouwer Bosch en Almero het my bietjie laat dink om anders te dink oor seer en skuldgevoel. As jy dit eenvoudig van jou rug af gooi, voel jy onmiddellik ligter, die oomblik as jy besef dat daar op die aarde niks is wat jy kan doen om dit beter te maak nie. En dan? Dan spog jy met jou letsels, want nou kan jy weer groei en ‘n nuwe rigting inslaan en dis nodig.
Leave a Reply