Bome dra sokkies

aca39bd7-a3dd-4293-8658-98fef5e5bf94Die dat ons almal nog op hok sit en elkeen die besluit moet neem of hy soveel as moontlik varkies in sy kraal wil hê, of almal in gelid wil laat marsjeer, is ek een van die wat maar die hekkie oopgemaak het dat almal net die vlaktes in moet hardloop en vry wees.

Aanvanklik het ek skuldig gevoel omdat ek nie meer varkies het nie, almal het dan varkies, maar die gedagte het later kom nes maak en nou is ek gemaklik met my leë kampie. Die ewige skuldgevoelens wat maal: het ek genoeg skoolwerk met Jan gedoen vandag? Stimuleer ek vir Ben genoeg? Wanneer gaan ek begin ophou bak en gesond eet? Wanneer skop ek met ʼn behoorlike roetine af?

As ek Facebook oopmaak, kry ʼn benoude gevoel in my keel wat skeef gaan draai in my maag as ek al die wonderlike goed sien wat mammas met hulle kinders doen. Droom aktiwiteite, skoon huise, mammas met rooi naels en lippe en mense wat verskriklik heen en weer hardloop in hul tuine en hul fiksheid bereik nou selfs nuwe hoogtes.

Juis omdat ek my varke die trekpas gegee het, het ek min tot geen energie om enige oordeel uit te spreek, maar tog het my hande lus gehad om ook iets te begin doen.

Ek was nie lus vir skoonmaak of skottelgoed was nie, dit is goed wat elke dag in elk geval moet gebeur. Ek wou iets doen wat ek na kan kyk as dit klaar is. Tussen al my handwerk hopies en halfklaar projekte, het ek op my afval wol afgekom en net daar het ek geweet wat ek kan doen: boomsokkies!

Ons erf is nie baie groot nie, so die bome is ook nie juis massief nie, agter teen die muur staan lang populierbome, in die middel ʼn apiesdoring en teen die ander muur is ‘n olyf en ʼn karee en daar is nog maar ek ken nie hul name nie. Elkeen van hierdie bome wat so getrou deur al die seisoene staan, gaan nou ʼn bont sokkie kry. Ek het al drie klaar en is sterk besig met die volgende lot.

As jy na die huistyd dalk by my kom koffie drink en jy sien die vreemde goed, mag jy dalk dink die vrou het haar varkies verloor, wel jy sal nie ver verkeerd wees nie, maar dit is ook vir my ʼn sigbare en kleurvolle teken van beter dinge wat op pad is. As ek elke dag na iets moois kyk, kan ek nie in lelik glo nie. Plante herinner die mensdom al vir hoe lank dat ʼn snoeiproses noodsaaklik is, dis net nie lekker om daaraan te dink nie, daarom vergeet ek graag daardie prentjie.

Wanneer die populierbome binnekort kaal en weerloos gaan staan in die tuin, gaan elkeen ʼn bont gehekelde sokkie om sy lyf hê om vir die boom (en vir my) te herinner dat nuwe lewe gaan groei na die winterslaap.

Volgende jaar as ek op my stoep sit en terugdink aan hierdie tyd, gaan my bont boomsokkie bome nog steeds daar staan as bakens van hoop in ʼn tyd toe dit moeilik was om dit te kon raaksien. En as ons iets moois (al is dit ʼn sokkie met gate in wat skewe kyke sal kry) in ʼn donker tyd kan sien, sal dit soveel makliker wees wanneer die lig weer skyn.

Ons raak weer klein

b13165c0-412f-4cb6-a9bf-61291e153862Ek sal nou nie myself kroon as ʼn dapper muis nie. Ek was van kleins af bang vir enige ding wat bietjie bo my vuurmaakplek lyk. Ek onthou een van die eerste dinge wat vir my vreesaanjaend gelyk het, was die duikplank tydens swemlesse. Die kinders wat net wil leer oorleef in die water het basiese goed geleer by tannie Jeanne aan die vlak kant van die swembad, die kinders wat swem wou bemeester het, het aan die diep kant geswem by tannie Lulu. Soms was daar ʼn klein duikplank, eintlik nie vreeslik hoog nie, ek dink op die hoogste 2 m hoog, dan kon almal net bietjie ontspan en “vir die lekker” daar afspring. Dit was dan gewoonlik my que om uit te klim en my handdoek van die draad af te haal.

Ek onthou ek het een keer in ons dam geval by die huis omdat ek vooroor gebuk het om paddavissies te vang. Genadiglik was my broer daar en die het my vinnig uit die bruin water gebring. My ma het vir my droë klere aangetrek en ek was maar bietjie stillerig vir die res van die dag en het maar binne gebly en pop gespeel.

Soos ek ouer geword het, het ek begin leer hoe nodig dit is om soms van die duikplank af te spring en dat mens nie altyd veel van ʼn keuse het nie en dat wanneer mens dit wel gedoen het, lewe jy nog steeds en het jy iets anders ervaar wat jy nie noodwendig sou ervaar nie. Eksamens, om ʼn kêrel af te sê, om ʼn loopbaankeuse te maak, om vriende te kies – niks het dood gemaak nie, net groot.

So het almal maar ʼn tydlyn waar jy dinge besef en optel langs die pad om verder saam met jou te dra, party goed haal jy weer uit jou rugsak wat jy liewer wil vergeet. Op my reis met grootword, het ek heeltyd een doel voor oë (nou nog): as ek eendag groot is. As mens groter is, hanteer jy dinge beter, maak jy beter besluite, voel jy beter oor jouself. Of so het ek gedink.

Die laaste ruk, sien ek klomp grootmense wat kla, paniek saai en mekaar net meer wil laat bekommer. As daar gekla word, word daar gekyk wie het die grootste moeilikheid en met wie gaan dit die slegste. Slegte nuus word uitgeruil en aangedik, spekulasies word gemaak en morbiede voorspellings vir die toekoms.

Ek weet nie hoekom ek so graag groot wou wees nie. Ek het besluit ek raak nou eerder oud as groot. As oumense van die duikplank moet afspring, al is hulle bang, sal hulle dit doen, want dit moet gedoen word en dit is hoe die verloop van dinge is. As grootmense van die duikplank moet afspring sal daar weer planne opgetrek word oor die hoogte, die impak en die gevolge van die aksie.

Ons het vandag skool-skool gespeel, ons het blokkies gebou en ʼn vulkaan gemaak en na ete Rummikub gespeel.

Ons besef weer waar ons krag lê, ons besef weer dat ons mekaar nodig het, ons sien mekaar weer raak en ons raak weer klein.c292736e-5511-4994-b015-dde93007ffa7

Seer

apple-4083549_960_720Die afgelope ruk is ek meer bewus van mense om my wat seer het. Almal se seer is anders verpak en onder verskillende lae skuil daar ʼn stuk vrot ding, hoe langer hy lê en broei en nie lig kry nie, hoe meer lae groei oor hom en hoe seerder raak die seer. Ek het Google geraadpleeg, maar was nogal vieserig toe ek nie ʼn ordentlike beskrywing van “seer” kry nie. Wat is seer? Is dit dan ʼn reeks van besluite wat mens geneem het om elke keer die vrot ding in daai boks toe te draai? Ek weet nie. Ek raai maar.

Seer is ʼn simpel ding, want die oomblik as jy dit het, dan begin ʼn klomp vrae jou teister: “hoekom ek?”; “as ek A, B, of C gekies het, sou ek nie nou gewees het waar ek nou is nie”; “wat op aarde het ek verkeerd gedoen wat so verskriklik is, dat ek so gestraf moet word?”; “hoe gaan ek hier uitkom”. Dit is soos ‘n klomp boelies op fietse wat jou jaag en jy ry met stadige driewiel en hulle gooi jou met tamaties en suurlemoene en enige derglike ding wat hulle hul hande op kan lê.

Die eerste ding wat ek gewoonlik doen as ek seer het is om die vrot ding wat sopas met my gebeur het, in ʼn boks te gooi en te liasseer met ʼn plakker: “hanteer later op ʼn geleë tyd”. Die lewe vereis dat jy in ʼn wieletjie moet hardloop teen ʼn seker spoed, wanneer jy ʼn blaaskans vat om vinnig ʼn kossie te pik of om ʼn bolletjie in die hoek van jou hokkie te maak, kan jy dalk ʼn tydjie afknyp om administratiewe takies te doen, soos om om jou vrot boksie nader te sleep om ʼn paar sake af te handel.

Ek is egter nie so gedissiplineerd nie, dus werk my liasseringsmodel nie so goed nie, want die boks raak oorvol, want ek haal niks uit nie. Ek het ʼn prentjie-brein, so ek sien ʼn boks met allerhande sif groente wat daar lê”: ʼn brandsiek wortel, ʼn verdagte aartappel en ʼn paar uie wat lyk of hulle so oud soos ek is. Die probleem kom by die uithaal van die vrot. Die uithaal is moeite. Ek moet besluit wat met elkeen van daardie goed moet gebeur en moet dit individueel hanteer en dit vat tyd, tyd wat ek eerder kon gebruik het om konstruktiewe dinge te doen sodat ek kan wys wat ek vir die dag vermag het.

Dit het vir my ʼn probleem begin raak, want ek het besef ek sit met ʼn boks met ʼn onaardse reuk, dit is besig om mense om my weg te jaag en om die omgewing te vergiftig. Die ding moet weg en soos wat ek besig is om planne te maak, druk ek nog ʼn paar weke oue pampoen ook nog by die spulletjie. Ek kan nie van dit sop kook nie, ek kan nie dit uitdeel vir ander nie, ek kan dit nie vir kompos gebruik nie, want dit gee nie meer lewe nie, dit is nou net dooie gif.

As ek in die kerk sit en op die punt van my stoel vir ʼn antwoord wag om ʼn paar vinnige wenke te kry om in ʼn japtrap van die stink boks ontslae te raak, hoor ek nie wat ek wil nie. As ek mooi goed lees, voel ek meer skuldig oor die simpel boks.

Ek het nou maar besluit tot tyd en wyl ek nie ʼn plan het om van hom ontslae te raak nie, gaan ek net nie nuwe goed bygooi nie, so ek moet die groente wat ek het dadelik verwerk en in die kos gebruik sodat dit nog uitgedeel kan word en vir ander iets beteken.

So was dit, soos elke ander aand, badtyd vanaand. Ons gaan deur ons ritueel van bruin voete skrop, waar seuntjievoete oral getrap het, daar is ʼn oor-en-weer gespoeg, ek pleit dat ek hulle tande self kan borsel sodat ek weet dis mooi skoon, Scotch Emulsion, dan Zinplex, gevolg deur neussproei.

Die lywe moet uit die bad uit kom, die gestry oor wie nog wil bad is al voorspelbaar, so ek wag maar tot ons konsessie bereik het. Jan trek sy jamies self aan en vir Ben kan ek nog vol poeier gooi, want dit het nog nie uncool geword vir hom nie. Bybelstorie dan gewone storie.

Ons lees in die Bybelstorie dat ʼn ware superheld nie mense seer maak as hy kwaad word nie en dat hy kies om eerder dinge rustig en kalm te hanteer. Ons gewone storie is op sy einde en ons lees van die Botha-broers wat hul boetie se boelies gaan regsien het by die skool en vir hom jammer gesê het dat hulle so aan hom gekarring het. Elke kind kry sy hasie-melk, “lief vir jou Jan, lief vir jou Ben, lekker slaap julle manne”. Lig af. Ek trek die deur toe en sug, soos elke ander aand. Die sug help my om te besef: dit wat van die dag oor is, is nou myne.

Ek gaan lê op die bed en wonder of ek so vroeg op ʼn Saterdagaand al kan bad en jamies en of ek iets sinvols moet doen. Jan roep. Hier gaan ek weer.

“Mamma, ek wil nie alleen wees nie, kom lê net bietjie by my.” Met genadige geduld sê ek: “okei Jannie”.

“Mamma?”

“Ja Jannie?”

“Wat is jou gunsteling diere?”

Eweskielik moet ek my brein herbedraad, sodat ek nou diere voor my kan sien en nie aan ander goed dink nie.

“Uhm, ek hou baie van eekhorings”.

“Dit kan nie al wees nie, wat nog?”

Nou moet ek nog ʼn paar ligte aanskakel, want ek dink hierdie gaan nie vinnig end kry nie, so ek moet ʼn hele paar diere nou vinnig in gelid kry.

“Ek hou ook baie van ʼn koala beertjie.”

“Dit is net twee diere mamma, wat nog?”

Elana, ruk jouself reg. Die kind wil weet wat is al jou gunsteling diere, dink nou ernstig hieroor.

“Mamma hou ook baie van hasies, baba perdjies en wollerige katjies is ook vir my oulik.”

“Mamma?”

“Ja Jantjie?”

“Jy is my heel beste este mamma in die hele wêreld en ek is super duper baie lief vir jou!”

“Ek vir jou ook Jannie.”

“Lekker slaap seuntjie.”

Sit lig af.

Staan bietjie stil en die sug wil nie kom nie.

Ek begin wonder weer oor die boks, want ek ruik nie meer iets nie. Ek stap toe kombuis toe om te gaan loer en wraggies, is die inhoud minder. Daar lê nog ʼn paar stinkes, maar ek weet nou hoe om hulle weg te kry.

Ek gaan môre aand weer oor wollerige diere met my seuntjie in sy bed gesels.

 

#2 Uit my ma se skryfgoed

undefinedDie huis waarin al vier ons kinders grootgeword het, Koedoestraat 4, is in ‘n doodloopstraat. Daar was nie sommer karre wat verbygery het nie en ons kon uit die leefvertrek deur die venster sien as iemand verdwaal en net weer omdraai. Voor die hek was daar ‘n bruggie waaroor jy moes ry, die kanaal loop daarlangs en al die huise langs die kanaal kon altyd water lei uit die kanaal.

Ek onthou hoe lekker ek in die kanaal gespeel het. ‘n Kanaal-dag het altyd onverwags sy opwagting kom maak, ‘n dag het gewoonlik ‘n kanaal-dag geword as mens baie verveeld was en jy begin loop rond en wonder wat jy kan doen. Die water wat voor die huis verby geloop het, was altyd vol moontlikhede en planne: party dae kry mens ‘n plan om met ‘n tube af te dryf, ander dae is mens weer lus om ‘n papier bootjie dop te hou en soms wat ek net lus om te sit en grawe vir mossels.

Ek het al op ‘n kol ‘n klein baber ook uitgetrek met ‘n stok en lyn wat ek sommer net aanmekaar vasgeknoop het. Koedoestraat 4 is nie meer ons huis op Upington waar ons kinders kan gaan kuier nie, omdat my ma nou alleen is en kleiner gegaan het. Daar is ‘n groot stuk waarop my kinders uitmis van my lekker herinneringe wat ek graag met hulle sou wou deel.

Die kanaal het ook ‘n spesiale plek in my ma se hart gehad, sy het ‘n gedig opgedra aan die kanaal:

Hulde aan die voor

Deur: Elsa Smith

Dis asof ek dit nou nog hoor –

My ma se stem:

“My kind gaan haal vir ons ʼn bietjie vars water by die voor”,

Ek onthou ook nog die vaalgeel bieliekom,

as hy vol was, maak hy nogal mens se arm lam.

Dit was die hartland van ons kinders,

die kweekstuk by die voor.

Tussen fluitjiesriet en Jan-Twak-bos,

het ons alle sin vir tyd verloor.

Daar het ons vir ure ge-mevrou-mevrou,

ons tee was troebel water wat uit die voor uit kom,

ons koeke was van modder, vars gebak en gou –

kunstig versiermet grassies en die Jan-Twak se blom.

Ons spelpatroon het skielik omgedraai

wanneer die seuns bykom.

Dan het ons die krappe afgemaai,

en oorlog met dieselfde klei gevoer –

ons krete het die gestorwenes se gebeentes

bo in Kalksluit gelaat roer.

                      _____________________________________________

Toe ons hier intrek, was my kinders klein

en ek was baie bang,

ek moes eers die erf omhein.

Gou het ek geleer, dis nie die water wat die kinders nader trek,

die staantyd van die watersloot,

dís wat hul aandag trek.

Dis vissies soek en krappe dood

en kleilat gooi verwoed.

Ook groter visse vang, kompleet met lyn en hoek.

Toe kon hulle ook met eie hande vroetel

in dieselfde voor se klei, lê die koekies in die son en bak

lank nadat die kanaal weer loop en ons weer water lei.

Rustig vloei hy deur ons dorp –

Bied ʼn fees vir elke oog.

Sorgsaam soos ʼn regte moeder wat haar tuinkinders nog soog.

Uit hom uit pomp ons, sproei ons, lei ons

net soos dit ons behaag.

Hy is die lewensaar van elke van se tuine

met sy troebel water voed en laaf hy,

Die lof van hierdie wilde lower is als net syne.

Dis nou nie meer ʼn voor, die mense noem hom nou kanaal.

Tog kan die kinders steeds die vreug van kindwees uit hom haal.

Die grootmense meet weer met ander waardes –

hulle wil in hom belê –

hulle soek al immers erwe wat reg langsaan hom lê.

Laat ons hierdie waterbron waardeer,

En laat ons by hom leer –

om sonder vra, altyd maar te gee.

Ons moet hom baie mooi bewaar,

omdat ons kleinkinders ook nog

Herinneringe rondom hom vergaar.

#1 Uit my ma se skryfgoed.

Ek onthou my ma was nog altyd lief vir skryf. Sy het altyd ‘n kort potloodjie gehad en het met haar eiesoortige half lopende, half vaste skrif los gedagtes neergeskryf. As sy dan die dag tyd gemaak het om alle los drade bymekaar te bring, het sy seremonieel voor die tikmasjien gaan sit en een-een elke letter op die papier vasgeslaan.

Photo by cottonbro on Pexels.com

Niemand mag dan met haar gepraat het nie, want dan maak sy ‘n fout en moes weer oor begin. Haar lêer met skryfgoed was altyd in haar werkkamer gebêre en ek onthou as ek by haar gesit het terwyl sy naaldwerk doen, het ek deur haar gedagtes geblaai. Ek het haar gevra om net weer van die gunstelinge vir my aan te stuur, sodat ek weer haar skryfgoed naby my weer kan hê. Soos ek deur alles lees, onthou ek goed hoe baie ek dit gelees het en dit geniet het, want alles waaroor sy geskryf het was deel van my leefwêreld.

Sy was al die jare ‘n huisvrou en het vir ‘n tydjie aan die Tuinbou-klub behoort, hoe sy alles kon inpas weet ek nie, want net wasgoed en skottelgoed alleen kry my onder. Sy en haar groep het ook ‘n beurt gehad om ‘n funksie te reël en sy het besluit om iets vir al die Tuinbou-tannies te skryf en dit voor te dra.

Die Tuinbou-tannies het altyd in die kerksaal bymekaar gekom en as daar ‘n funksie was, was daar tafels wat gedek is volgens tema, ‘n spreker wat kom gesels oor tuinmaak en idees is oor en weer uitgeruil – ‘n groot gedoente.

Die Tuinbou-klub het uit ‘n wye verskeidenheid van vroue bestaan, nie almal was noodwendig boesem vriendinne nie, maar almal het lekker oor en weer gekloek met sulke geleenthede. Ek onthou nog hoe my ma die stuk wat sy geskryf het vir ons by die huis ‘n hele paar keer voorgelees het.

Ons kinders het lekker gegiggel vir al die kwinkslae, maar my pa was nie baie ingenome daarmee nie, want “mens trap nie so op ander mense se tone nie.” Nietemin het my ma steeds voor al die tannies gaan staan voor die mikrofoon, haar keel skoongemaak en die volgende voorgelees.

My Tuinbou-vriendinne

Deur: Elsa Smith

Party van ons is soos ʼn sonneblom,

Oop en gul en vriendelik; lag oor elke dag wat kom.

Geen situasie is ooit te ernstig van aard,

sy sien altyd net die sonkant raak.

Ander weer is soos die roos,

sag en skugter van geaardheid.

Nie ʼn harde werker, daarvoor veels te broos.

Maar pasop, sy het ʼn doring,

veel sterker as enige bees se horing.

Ook is daar ons suster aster,

sy is nie besonder geurig.

Maar aan haar groei jy gedurig vaster.

Sy is so betroubaar en gewillig

bekla by haar maar enige tyd jou lot.

Plaas haar in ʼn pot en tot 14 dae verskaf sy jou ure van loutere genot.

Die jakop regops is ook hier.

Die hoogmoediges, bietjie stywerig en baie suur.

Hulle is tóg bruikbaar, soms heel kleurvol.

Maar oor hulle is niemand maklik baie dol.

Hulle is die oues vir geen kuns, net kultuur.

Die sweetpies kry jy ook.

Van hulle bly jy altyddeur bewus,

Want hulle is so fyn en geurig.

In ʼn pot hou hulle ook ʼn lang ruk,

Maar hulle het ʼn splinternuwe nuk,

doen niks alleen,

soek altyd maar ʼn stut om op te leun.

Angelier is ook nog hier.

Sy hou van dinge rustig.

Sy is baie sterk gegeur, want haar parfuum gebruik sy baie kwistig.

Sy het al menige vrou se afdag opgebeur.

En dan kom ons by die magrietjie.

Waarlik ʼn vriendin in nood,

by haar hoef jy geen afspraak ooit te maak nie,

enige tyd is teetyd, en by gebrek aan koek eet julle sommer brood.

Jy hoef jou nooit vir haar te skaam,

Sy is so vriendelik, so nederig en so bekwaam.

Op die deftigste onthale, in die mees eenvoudige huis,

Oral gesels sy ewe maklik en oral is sy heerlik tuis.

Voor julle nou te vreeslik wonde:

“Waar pas ek nou in”

Wil ek net sê:

Ons leer so baie dinge in God se Boek,

Soos, “wees maar net jouself” en “doen jou bes”

En “blom tot eer van Hom”.

Geen tuin is net vir een soort,

Verskeidenheid, dit is wat God wil hê.

Dit is soos dit hoort.

Geniet jouself daar in jou akker,

Wees heel jaar op en wakker.

Kom ons gee met oorgawe ons malse kleur en geur

Om die beswaarde wêreld om ons so ʼn bietjie op te beur.

Photo by cottonbro on Pexels.com

Die wit brood

close up photo of sliced brown bread on brown wooden tray
Photo by Marta Dzedyshko on Pexels.com

Vir een of ander onverklaarbare rede het wit brood net altyd lekkerder geproe, dis minder gesond, maar van kleins af as my ma my in die winkel na die broodrakke toe stuur, neig my hand elke keer onwillekeurig na die wittes toe. Dis die cool brode wat neerkyk op die ander brode met hul nederige, heilsame voorkoms, wat nog te sê van die brode wat nie eens gesny is nie, wat jy self deur die masjientjie moet stoot en in die sakkie toeknoop.

Dan is daar ook die bekende konnotasie van juffrouens en hul witbroodjies, die witbroodjie kind het baie ooreenkomste met die regte wit brood. Albei lyk spoggerig, netjiese snye, netjiese vlegsels en albei maak jou hart bly as jy hulle sien aankom. Die res van die klas voel maar klein en nietig in die witbroodjie se teenwoordigheid, aangesien sy tweed in bevel is in die hiërargie van die klas.

En dan is daar nog ʼn wit brood waarna verwys word wanneer iemand kla, eintlik bietjie meer spog, oor twakkies en onbenullighede wat hul lewe ondraaglik maak, dan kla jy met die spreekwoordelike wit brood onder die arm.

Om te kla is goed, maar dan moet jy eerlik kla en dit nie opdis met ʼn ander spoggerige klagte sodat jy in jou klaaglied nog steeds oulik kan lyk nie. ʼn Goeie kla-sessie kan wonders verrig en mens kilogramme ligter laat voel, dit kan selfs ʼn daaglikse aktiwiteit wees. Die doel van kla is om jou laste neer te lê en raad te vra sodat die ander persoon wat na jou klagtes luister vir jou kan help om jou swaar te herrangskik en meeste van die kere ʼn antwoord te gee waaroor jy nie baie mal is nie. Ek is lief vir kla, as ek dit klaar gedoen het voel ek ligter en terselfdertyd ook simpel, want sien my klankbord (alias Abrie) duld nie fieterjasies en verskonings nie. As ʼn klagte afgemaak word as onbenullig, moet ek dit kan sluk en daaraan werk en besef dat ek met die wit brood onder die arm loop en kla.

Dis die wonderlike oefening en uitwerking van kla. Dit word in alle eerlikheid geuiter, aangehoor en herverpak in iets heelwat ligter en meer verteerbaar. As ek nie die ligter pakkie aanvaar nie, is dit my eie skuld, maar dan mag ek nie weer kom kla nie. Eerlikheid jaag nogal baie mense weg, want almal verkies eintlik ʼn leuen om beter te voel oor ʼn situasie, dis jammer en vreemd.

Dit is jammer dat dit my so lank moes neem om agter te kom dat bruin brode eintlik die goeie brode is, hulle jok nie vir jou oor wie hulle is nie, hulle gee nie sooibrand nie en laat jou ook nie wurg nie. Ek hou van die prentjie van Jesus wat by bruin brood mense gaan sit en kuier het, die mense wat ʼn ding op sy naam noem en onbetaamlik hard kan lag. Wit brood mense weet hulle is oulik en is oorbewus van hul status en voorkoms en hoewel hulle so aanneemlik lyk, kies ons liewe Here steeds die geselskap van die bruin brode.

Om te kla met die wit brood onder arm, laat voel ʼn mens maar simpel as jy dit besef, maar solank jy dit besef. Here raas tog asseblief met my as ek kla en probeer cool lyk soos ʼn wit brood as ek kla en help my om van goeie waarde, soos ʼn bruin brood, te wees vir almal.

Amen

Moets en moenies

7566f003-42ee-4720-beaa-8b36de9ec12aʼn Revolusie impliseer die skielike, radikale weerstand teen ʼn geleidelike verandering. Die afgelope ruk loop ek met die woord in my kop rond en ek vra heeltyd myself af: Self, is ek en jy besig met ʼn revolusie? Ek het sedertdien nog nie ʼn duidelike antwoord gekry nie en worstel steeds hiermee.

Op skool was ek nooit juis ʼn pliggie nie, ek het genoeg huiswerk gedoen om nie die tempo te verloor nie, maar ook nie te veel huiswerk nie, want dan sou dit beteken dat ek met my sosiale lewe moes boet daarvoor. Ek kon my altyd verkyk aan die kinders wat optimaal kon funksioneer onder reëls, dit het hulle veilig laat voel en hulle wou graag so veel moontlik reëls nakom sodat hulle so soet moontlik kon lyk.

Op universiteit was die reëls, tot my verligting, aansienlik minder, maar weer was daar hierdie uitsonderlike groepie mense wat reëls kon uitsnuffel en dit om hulle gepak, soos ʼn klein skaapkraaltjie. Dit het hulle gelukkig gemaak om al die reëls na te volg, dit het my gelukkig gemaak om dit te breek. Dit het gevoel of ek ontsnap en wegbeweeg van ʼn klein kampie na ʼn groot veld, alle bagasie wat my swaar en mismoedig laat voel het, kon ek agterlaat as ek vryheid kon proe.

Ek sal nooit die aand vergeet toe ek en ʼn paar vriendinne in ons eerstejaar bestempel is as die vrot appels nie, ons is aangesê deur die HK om voortaan ʼn lae profiel te handhaaf. Dit het ons meer motivering gegee om nie ʼn lae profiel te handhaaf nie en om gestand te doen aan ons “vrot appel” etiket wat aan ons nekke gehang is. Die meisies wat geduldig gewag het tot hulle vir die eerste keer kon uitgaan saans, het ook nooit juis hand uitgeruk nie. Hulle het soos dit ʼn beskaafde dame betaam, vroeg teruggekeer koshuis toe – en ek is seker daarvan hulle het ook eers gaan bad en tande geborsel voor hulle in die bed gekruip het.

Elkeen doen waarmee hy/sy gemaklik is en wat hom/haar vrede gee. Vir die een of ander rede bevraagteken ek maar net van kleins af goed om my. Ek onthou toe ek klein was, is daar altyd vir my aan tafel gesê: “Laan hou op vergadering hou”. Ek wonder, pluis uit, vra te veel vrae, sê te veel. Maar dit is hoe ek op halwe waarhede en oplossings afkom, dit laat voel my rustiger voel as ek my hart koel gepraat het, dan het alles weer taamlik sin.

Met die tyd waarin ons is, word ons met baie reëls gebombardeer en daar is vreeslik baie moets en moenies. Nooit het ek luidkeels aangekondig dat ek van hierdie reëls nie gaan nakom nie, aan die begin het alles heel doenbaar geklink vir my. Namate die tyd verbygaan, het my oeroue drang om oor die skaapkraaltjie se heining te klim maar weer ingeskop.

Ons het ʼn paar dae gelede iewers deur die loop van die middag ʼn tweede behoefte ontwikkel om te gaan stap, die kinders was gefrustreerd en ons is uit by die deur. ʼn Goeie 500 m weg van die huis het ek besef nie een van ons het maskers aan nie, ek was eintlik bly ek het vergeet, want nou kon ons weer ʼn slag lekker met mekaar gesels en nie klink asof ons ʼn bank wil beroof nie. Vreemd soos die motors verby ry, kon ek koppe sien wat draai en ons bietjie aankyk.

Eweskielik is ons verkeerd omdat ons nie ʼn stukkie lap het wat ons monde en neuse toemaak nie, en nog erger, ons stel ons kinders aan die buitelug bloot sonder maskers. Net toe ek nog besig is om vir Abrie ʼn grap te vertel, waarvoor hy nie wou lag nie, staan ʼn man en kyk vir ons vanuit sy voorportaal agter sy traliehek, waar daar nie kieme is nie. Ek waai vir hom en besef toe vinnig hy wil nie terug waai nie. Toe ons verby sy huis is, het ek ʼn gemompel gehoor.

Jan, ons oudste, is wel lief vir reëls en kon nie verstaan dat ons in kiemtyd in die middag gaan stap nie: “ons gaan kieme kry Mamma”. Ek moes my woorde baie versigtig kies om vir hom op ʼn mooi manier te laat verstaan dat kieme nie tyd kan lees nie en dat sommige reëls nie altyd sin maak nie.

As die kind in die hoërskool was, sou ek net kon sê dat mens maar ʼn middelvinger vir party reëls mag wys. Ek het nooit besef ons land het so baie liefhebbers van reëls nie, maar deesdae is mens byna elke dag oor iets nuuts verbaas. Mense verklik mekaar oor ʼn bietjie gerondloop en bene rek, die tronkvoëls vat nou die strate want hulle is bang hulle kry die virus in die tronk, honger mense se kos word gesteel deur mense wat hul eie kos kan koop, maar solank jy slegs tussen 07:00 en 09:00 buite is en ten alle tye jou masker dra is die Kaap Hollands.

Die skoolwerk kom in vir my Graad R kind en is meer as wat ek wil hê dit moet wees, so ek sif deur alles en kies my tye van skoolhou versigtig. As hy met ʼn plan soggens wakker word en haastig sy pap eet sodat hy buite kan kom, gaan ek nie in sy pad staan met vorms, getalle en letters nie.

So nou en dan vra ek myself: “Self, moet ek nie maar bietjie meer skoolwerk met Jan doen nie, wat as hy agter raak?” Dan antwoord Self (ek vermoed dis my gewete, maar sy is ook my enigste maatjie deesdae): “los hom dat hy oor die heining klim en gaan ontdek.”

Ek het vandag vir Jan en Ben weereens gelos om hul harte uit te speel en dit raak net lekkerder, die jaghuisie is nou tans ʼn army huisie waar meeste van die lekkergoedvoorraad ook gestoor word, vir die wis en onwis. Daar is ook slaapsakke, ʼn lig en legkaarte vir as hulle nou regtig verveeld raak.

Niemand weet wat is reg of verkeerd nie, maar as jou reg, reg voel, kan dit nie verkeerd wees nie. Miskien is die revolusie in wording nie ʼn slegte een nie en een waar ons vir ons kinders leer om vir hulself te mag dink en redeneer.

‘n Lig, watergeweer en Peaceful Sleep is noodsaaklikhede vir ‘n army huis.

Slaapsak en kussings is gereed, maar ‘n geharde army man, mag darem nog met sy beertjie slaap en sy pantoffels dra.

Beddens word netjies opgemaak voordat hulle uitgaan op ‘n geheime missie.

Die toerusting is netjies gebêre en elke ding het sy plek.

Veiligheid word opgeskerp om rondlopers, soos die kat of haas, van die perseel af te hou.

Om te waardeer

photo of flowers in glass vase with water
Photo by cottonbro on Pexels.com

Ek is ʼn laatlam van vier en van Standerd 2 was ek die enigste kind in die huis en die grotes is toe op universiteit en het begin werk. Ek moes altyd hoor ek kry dinge te maklik en ek hoef nie te lank te wag vir iets nie. Ek het in Standerd 5 ʼn CD-speler gekry, ek dink die ander kinders moes langer wag vir ʼn radio.

Ek kon meer klere kry, want daar was nou net een kind om voor klere te koop in die huis. Ek kon ook bietjie meer my sê inkry en ʼn lelike antwoordjie terug snip, want my ma-hulle was nie meer in die dissipline game nie. So om ʼn laatlam te wees, het sy voor – en nadele, maar omdat ek nie te lank hoef te gewag het vir wat ek wou hê nie (al het dit vir my so gevoel), het ek nie juis die betekenis van die woord “waardeer” geleer nie.

Ek het ʼn hele klompie jaar skoolgehou en “waardeer” het gereeld opgekom as een van die woorde vir Vrydae se speltoetse. Dit kan so maklik as “waardeur” gesien en geskryf word. Jy kyk so maklik deur die woord en dink jy hoor reg, maar eintlik is dit iets anders. So, ek het gedog ek het vir “waardeer” taamlik onder die knie gehad. Mens kyk mos rondom jou en sien raak wat jy het en sê dankie daarvoor, dis mos wat waardeer beteken, nie waar nie? Of so het ek gedink.

Die afgelope ses weke het ek die huis probeer skoonhou, vir die kinders ʼn juffrou probeer wees en agter my rekenaar ingeskuif op vreemde tye om te probeer werk, met die klem op probeer. Alles was maar ʼn poging, alhoewel ek nie juis een van die drie vreeslik goed kon doen nie, aangesien die dag te kort is en partykeer is alles net te oorweldigend dan wil ek net sit, vir geen rede nie, net omdat sit sit is.

Vanoggend het Emily, ons huishulp van die afgelope 9 jaar, weer teruggekom. Dit is asof tyd nie stilgestaan het nie. Dieselfde ritueel om eers grappies met die kinders te maak terwyl hulle pap eet, die gerusstellende geluid van die wasmasjien wat ritmies sy werk doen, rondstaan skottelgoed wat eweskielik verdwyn, gebondelde beddegoed wat weer seepglad gestryk is met kussings mooi op hul plekke, stof wat gaan lêplek soek het in die kleinste gaatjie het verdwyn en Emily se geselsies met haar vriendinne oor die foon terwyl sy werk. Eweskielik is ons huis se bestuurder terug, ek kan nie meer in my jamies in die huis rondloop nie, dit voel nie reg nie, so ek het maar vir die eerste keer in twee maande weer klere gekies wat bymekaar pas.

Ek en Jan kon skoolwerk doen vanoggend, terwyl Ben homself soet besig gehou het en Abrie was ook op sy pos en aan die werk. Ons het ons skooltakies afgehandel, Jan was maar te dankbaar dat hy weer kon begin speel en ek kon met nuwe woema met my eie werk begin, want ʼn groot deel van die dag se werk is reeds vermag. Ek kon gedoen kry wat ek wou, die kinders het hulself soet besig gehou die hele middag en het net een keer vir koeldrank en ʼn verassing kom vra.

Tussendeur het Emily verwoed ingevaar met die stofsuier, klere gestryk en die vloer blink gemaak. Vanaand se kos was lekkerder as ander aande, want daar was struktuur in ons dag en ek wil darem vir Emily ietsie lekkers gee vir haar eerste aand weer terug by ons.

Die dag is verby, maar dit was anders as ander dae, ons is weer voltallig, daar is weer ʼn ritme in die huis en daar is tydgleuwe vir spesifieke dinge.  Ons het Emily se plek probeer volstaan, maar het dit nie baie goed reggekry nie.  Ja, dit is beslis ʼn eerstewêreld bekommernis om jou huishulp te kan verlang, nie almal het dit nie, maar dit gaan oor meer as net die netheid en die reuk van jik en seepborrels wat spat. Dit is die vrolike energie wat iemand in ons huis inbring, sonder dat sy so oulik hoef te wees en dat sy voel dit is haar huis ook en dat sy hier hoort, wat vir my die heel lekkerste gedagte is.

Vanaand weet ek wat waardeer beteken.

Verlang

white and brown house
Photo by Arvid Knutsen on Pexels.com

Op 19 het ek begin kennis maak met verlange. Elke Sondag het soos ʼn ewigheid gevoel en al was ek in die koshuis, waar daar geen tekort aan geselskap was nie, was ʼn Sondag ʼn stil, dooie dag. Ek dink nou nog terug aan die dae toe ek nog nie verlang het nie en ek wens ek kon vir my klein self gaan sê het om die geborge, veilige gevoel meer te koester. Roetine is nie altyd lekker nie, maar roetine het gemaak dat ek sekere goed nou nog glashelder kan onthou.

Ek onthou Sondae oggende se opstaan, ons kon ʼn rapsie later lê as deur die week. My pa se ritueel, waarvan hy nooit afgewyk het nie, was om aan te trek, hare in ʼn netjiese kuif te kam in die badkamer, terug in die gang na hulle kamer om kerkgeld te kry wat hy in ʼn klein springbok balsakkie gebêre het, dan het hy sy baadjie aangetrek en pepermente vir almal afgetel. Toe die ander kinders nog in die huis was, was ons ses mense wat pepermente moes kry.

My ma het altyd ekstra mooi gelyk op ʼn Sondag en dit was vir my lekker want dit was die enigste dag in die week wat ek haar met hakskoene gesien het. Ma het haar leersak met haar Bybel en notaboekie en klein potloodjie daarin gereed, Pa het sy pepermente en kerkgeld en almal spuit nog vir oulaas lekkerruik en trek reg voor die spieël. So het ons al ses dan kerk toe gestap, ek onthou ons kon die hele straat se breedte volmaak.

As ons net buite die hek was, voor die posbus, het elkeen ʼn peperment gekry om te suig, nie te kou nie, want dan raak dit gou op. Ons mag nie hard gelag het en simpel grappe gemaak het nie, want ons is op pad kerk toe en moes nou stemmig wees. As ons die skerp bult begin uitstap het, het Ma altyd gekla oor die ou stink boompie wat soos katpis ruik, dan het Pa met haar geraas, want sy sê dit te hard en die mense gaan haar hoor.

Bo die bult, kon ons die kerk sien, hy het net ander kant die hoofstraat gestaan en gewag vir almal om op hul gewone plekke te kom sit. Hoe nader mens aan die kerk gekom het, hoe stiller het almal geword en indien daar nog wel ʼn laaste grappie of giggel was, was dit nou teen die tyd heeltemal van die tafel af.

My pa het nie geraas nie, net gesê: “Ousus”, maar dit het my nogal simpel laat voel so ek wou dit liefs vermy. Mens bars nie net by ʼn kerk in nie, daar is ʼn proses: ouer mense wat naby aan jou loop stap eerste in, knoop ʼn geselsie aan met ʼn paar kennisse maar hou dit steeds stemmig en in ʼn lae stemtoon, vat ʼn kerkblaadjie by die deur, loop in en draai dadelik regs en neem jou plek in en moet ook nie rondkyk-rondkyk loop nie, jy loop om by jou plek uit te kom. Indien ʼn gesin vir een of ander rede op jou gesin se plek sit, is daar ʼn effe ongemaklike situasie, alhoewel die rye voor nog baie spasie het, staan die gesin wat gewoonlik op die plek sit en kyk vir die sittende gesin. As die sittendes nie hul plek wil afgee nie, word daar saggies verby hulle in die ry geskuur, maar jou ry is jou ry, jy moet daar sit ten alle koste. Indien die gesin die ongemaklikheid aangevoel het en besef hulle het jou plek gesteel, dan het hulle vinning middel toe geskuif.

Sodra almal gemaklik was en hul Bybels in die rakkies gesit het van die voorste banke, buig almal hoofde. Ek het nooit geweet hoekom ek dit moet doen nie, ek het maar my oë toegemaak en gehoop Ouma Ella het weer sousboontjies onthou vir middagete. Die oom wat die voorsang gedoen het, het ʼn groot verantwoordelikheid gehad en die hele gemeente het vir hom gekyk terwyl daar gesing is. Dan het die dominee met sy preek begin en daar moet stil gesit word. My pa het gewoonlik langs my gesit, hy het agtergekom as ek rondkyk of nie oogkontak met die dominee maak nie en dan het ek ʼn ligte tikkie gekry om my te herinner om te fokus.

Aan die einde van die diens het ons, ons kollekte by die sydeur ingegooi en ek het altyd bietjie meer die kollekte tannies geniet wat aan die einde van die dienste by die deure gestaan het. Hulle het bietjie meer geselsies gemaak. Oorheersend was daar ʼn meer geselligheid onder die mense buite en die volume kon nou ʼn klein bietjie opgedraai word. Om nou te praat oor ʼn toetswedstryd van ʼn rugbyspan is aanvaarbaar. Ooms het vasgehaak bymekaar en tannies het begin voetjie klop want daar is ʼn ding in die oond en voorbereidings vir die middagete moet begin.

Ons het vir ouma Ella gehad wat langs ons gebly het, sy het ons meeste Sondae genooi vir ete. Die Sondae wat sy gekook het, het sy kerk op die radio geluister en nie saamgekom nie en haar been het haar gepla, so sy was gemaklik met kerk by die huis.

Ek onthou ouma Ella het ʼn blink, ronde eetkamertafel gehad en bo-op was ʼn ding wat kon draai. Sy het dan al die kos op die ronde deel kom sit, dan kon almal skep, sonder om oor mekaar te rek. Ouma Ella was lief daarvoor om soet te kook, soet patats, soet boontjies, soet perskes, rys, sagte vleis en dalk een sout groente soos boontjies. Die sousboontjies was my gunsteling en ek het dit altyd met rys gemeng en klein porsies van als geskep sodat ek nog plek gehad het vir ʼn tweede bergie. Poeding was gewoonlik ʼn roly poly met vla. Ek het eendag raas gekry, want ek het gesê die roly poly lyk soos ʼn wurm. Pa het gevoel dit is onvanpas en mens vergelyk nie Ouma se gebak met goggas nie.

Dan het ons skottelgoed gewas en Pa het koerant gelees en as als weer op hul plek is het ons vir Ouma gegroet en huis toe gestap. Die volgende logiese ding wat gevolg het was die middagslapie. Ek weet nie hoekom die televisieprogramme op Sondagmiddae ekstra vervelig moes wees nie, maar ek het maar deurgedruk en gekyk.

Hier teen 16:00 se kant was die middagslapie verby en dan het ons Klippunt toe gery en by die familie gaan kuier. Net voor sononder was ons weer terug by die huis en dan op Sondagaande was dit Pa se beurt om kos te maak. Aangesien ons ʼn groot middagete gehad het, het hy volstaan by eiers. Jy kon kies hoeveel gekookte eiers jy wou hê. Terwyl hy die eiers kook moes ek die tafel dek, dan is die res van die aand gevolg deur Carte Blanche, die 20:00 fliek, tas regpak vir môre se skool en gaan slaap.

Dan moet daar eers weer vir ʼn week gewerk word, voor jy weer hierdie rustigheid kon beleef. Sondae bring steeds heimwee en verlange op, nuwe roetines en gewoontes is gebore. En dan wonder ek of ons ook daarin sal slaag om sulke helder herinneringe te skep vir ons kinders.